Wilde jaagtog eindig tragies

Hy het baie vinnig gery en die insittende voor langs hom het die jaagtog met sy selfoon afgeneem

NELSPRUIT – ‘n Wilde jaagtog in die middernagtelike ure in Ferreirastraat wat boonop op video vasgelê is, het tragies geëindig toe twee insittendes van die sportsmotor dood is.

Mnr. Bouwer Badenhorst (26), ‘n finansiële adviseur en oudleerling van Hoërskool Nelspruit se voorliefde vir vinnige karre sou uiteindelik sy lewe eis. Nog ‘n insittende van sy Mercedes – na wat verneem word ‘n 15-jarige seun – is op pad hospitaal toe dood.

Die ongeluk het vanoggend omstreeks 00:30 voor die Wimpy gebeur. Twee tienerseuns was saam met Badenhorst in die voertuig. Volgens mnr. Jacques Meiring, operasionele bestuurder van Bossie’s Community Justice, het Badenhorst in Ferreirastraat gery in Steiltes se rigting voor hy ‘n u-draai gemaak en in Wimpy se rigting gery het.

Hy het baie vinnig gery en die insittende voor langs hom het die jaagtog met sy selfoon afgeneem. Verskeie reddingswerkers op die toneel, Meiring inkluis, het die video gesien.

“Jy kon hoor hoe iemand sê ‘hy gaan hulle nou iets wys. As jy gedink het hierdie was erg, dis nog niks.” Mnr. Shaun Naudé, ‘n insleepoperateur, het vertel dat jy kon sien hoe die strepe op die pad verby flits. “Hy het so vinnig gery dat dit soos een soliede streep gelyk het.

“Die kamera was op ‘n stadium op die odometer en hoewel ek nie die presiese spoed kon sien nie, kon ek sien dit was hoog.”

Badenhorst het links geswenk in Wimpy se rigting en ‘n lamppaal getref. Die regterkant van die Mercedes is op impak afgeruk en Badenhorst is uit die voertuig geslinger. Hy is op die toneel aan sy beserings dood.

Die tienerseun wat agter hom gesit het, is deur paramedici van Netcare 911 met ernstige beserings hospitaal toe gejaag, maar hy is op pad soontoe dood.

Die seun wat voor langs hom gesit het en die video gemaak het, was ongeskonde, maar erg geskok.

Die naam van die tienerseun wat oorlede is, is nie bekend nie. Sy ouers het wel op die toneel aangekom en Meiring, wat self jare gelede ‘n dogter in ‘n motorongeluk verloor het, het hulle bygestaan.

 

 

Exit mobile version