Nog geen arrestasies in “neus-saak”

'n Saak van aanranding is deur 'n jong man geopen nadat sy gesig geskend is in 'n bekende kuierplek van Witrivier.

WITRIVIER -‘n Saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer is deur mnr. Brian Barnard (20) geopen nadat hy verlede Vrydagaand ‘n gedeelte van sy neus verloor het. (Lees die oorpronklike berig hier.)

Hy is net voor 20:00 in ‘n bekende kuierplek op die dorp verkeerdelik aangesien as ‘n lid van ‘n rowerbende, en is ten minste twee keer met ‘n geweer in die gesig geslaan deur lede van J&M Sekuriteit.

Volgens sers. Gerald Sedibe van die SAPD word die saak ondersoek en moet die skuldige partye deur die klaer uitgewys word alvorens ‘n arrestasie gemaak kan word.

Die eienaar van die kuierplek het aan Laevelder gesê dat die sekuriteitskameras binne sy kroeg nie op daardie tydstip gewerk het nie.

Barnard, wat slegs ‘n paar dae vantevore na die dorp verhuis het, is in die Mediclinic Nelspruit behandel waar rekonstruksie aan sy gesig Saterdag gedoen is.

Betroubare bronne het aangedui dat hierdie operasie, alleenlik, byna R120 000 gekos het, en dat dit drie uur geneem het. Sy vergruisde wangbene is met plate geheg, maar die been in sy neus is in so ‘n mate vergruis dat hy nog talle operasies oor die volgende jaar moet ondergaan in ‘n poging om dit te herstel.

Vel is van sy voorkop oorgeplant om die gat in sy neus te bedek. Hy is hierdie week vir eers ontslaan.

Alhoewel Sedibe nie kon bevestig of die blitspatrollie ook op die toneel was nie, het Laevelder betroubaar verneem dat hulle wel was.

Dit laat die vraag ontstaan hoekom die SAPD toegelaat het dat privaat sekuriteitsbeamptes eerste die perseel betree om ‘n arrestasie te maak?

Die Wet op Kriminele Prosedures (Gedeelte 42) dui aan dat privaat persone ‘n arrestasie mag uitvoer, sonder ‘n lasbrief, in die volgende omstandighede, naamlik:

• Wanneer ‘n misdaad of ‘n poging tot ‘n skedule-1 misdaad in sy of haar teenwoordigheid gepleeg word, of as daar redelike gronde bestaan om te vermoed dat die verdagte ‘n skedule-1 misdryf gepleeg het soos moord, verkragting, of roof.

• Wanneer ‘n verdagte besig is om van die gereg te vlug as die privaatpersoon glo dat die voortvlugtende deur ‘n persoon met die gesag om te arresteer agtervolg word.

• Enige persoon wat deel is van ‘n bakleiery.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version