CrimeEditor's choiceHard newsNewsNews

Man neus kwyt na aanval

'n Vrydagaand kuiertjie by 'n bekende watergat in Witrivier het lelik uitgedraai vir 'n jong man van die dorp.

WITRIVIER – ‘n Twintigjare man se neus is Vrydagaand van sy gesig by ‘n bekende kuierplek afgeskeur toe hy glo verkeerdelik deur lede ‘n sekuriteitsfirma as deel van ‘n rowerbende aagesien is.

Die jongman het skuins voor 20:00 saam met sy neef en dié se kollega in die kroeg gesit, toe lede van J&M Sekuriteit die klub binnegestorm het, glo met
R5-aanvalsgewere in die hand.

Hy is saam met ‘n ouer man, wat hy vroeër die aand ontmoet het, deur twee van J&M se beamptes na die grond gedwing. Kroeggangers vertel dat die jongman teëstand gebied het omdat hulle gewone drag aangehad het.

“Hulle het hom eers met die agterkant van ‘n geweer geslaan, en mense het my later vertel dat hy ook met die voorkant aangerand is terwyl hy op die grond was,” het een van die ooggetuies vertel.

Hierna is hy saam met die tweede man na buite geneem vir ondervraging. Lede van die polisie se blitspatrollie was ook op die toneel.

Die ouer man was na bewering ‘n verdagte in ‘n gewapende rooftog. Hy het na bewering skuld erken, maar het aangedui dat die jongman geensins by die misdaad betrokke was nie.

Na afloop van die ondervraging het sy familielede die beseerde na ‘n hospitaal in Nelspruit gehaas. Een van hulle het Saterdagoggend die gedeelte van die neus wat afgeruk is, gaan optel en in ‘n plastiese sakkie na die hospitaal geneem waar hy Saterdag rekonstruktiewe chirurgie ondergaan het. Volgens die man se ma is sy wangbene en neus vergruis en sal hy talle operasies en terapie moet kry.

Laevelder het mnr. Werner Terblanche van J&M vir kommentaar genader. Hy was slegs bereid om te sê dat hy die saak sou hanteer namate dit ontvou.

(Lesers van hierdie berig moet asseblief in gedagte hou dat die inligting hierin vervat so aan die joernalis aangebied is deur die persone wat bereid was om met haar te praat hieroor. Indien jy teenwoordig was en ‘n ander weergawe van gebeure waargeneem het, kontak ons gerus sodat ons hierdie kan ondersoek. Kontak e-pos adres is susanna@lowvelder.co.za)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button