Big Joe se R8,1 miljoen aan SANParke betaal #poachingsyndicates

Die vermeende leier van 'n renosterstropersindikaat se opgelêdge geld is aan SANParke se omgewingsmisdade-ondersoekeenheid oorbetaal. #poachingsyndicates

NELSPRUIT – Die R8,1 miljoen van mnr. Joe Nyalungu waarop daar beslag gelê is, is aan SANParke se omgewingsmisdade-ondersoekeenheid oorbetaal. Nyalungu, ook bekend as Big Joe, is die vermeende leier van ‘n renosterstropersindikaat en is steeds in aanhouding nadat hy vroeg verlede jaar gearresteer is.

Hierdie geld kan nou gebruik word om nog veldwagters op te lei of toerusting aan te skaf wat hulle kan help in die stryd teen renosterstropery.

Nyalungu se verhoor sou Vrydag in die hof in Middelburg begin, maar is uitgestel omdat een van die regsverteenwoordigers homself aan die saak onttrek het. Die saak sal nou op 24 en 25 Maart volgende jaar aangehoor word.

Nyalungu, ‘n voormalige adjudant-offisier in die polisie, is op 12 Desember 2011 naby Middelburg aangekeer toe hy onderweg was van Gauteng. Die polisie het R3 280 800 in kontant in Nyalungu se Range Rover ontdek en het ook onder andere beslag gelê op ‘n sak wat weggestuur is vir ‘n DNS-analise.

Daar is toe bevind dat die sak DNS-materiaal van ‘n wit renosterbul bevat het. Dié materiaal het boonop ooreengestem met dié van ‘n karkas wat ondek is nadat ‘n renoster vroeër daardie maand in die Stolsnek-omgewing van die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) gestroop is.

Lokvinke van die polisie het toe twee keer verlede jaar renosterhorings aan Nyalungu verkoop. Hy is op 2 Maart, kort na die tweede transaksie, gearresteer. Ondersoekbeamptes het hom nog na een van sy huise in Mkhuhlu vergesel waar hulle op ‘n boerpot van R5 069 800 in ‘n metaalkoffer in die motorhuis afgekom het.

Daar is vasgestel dat Nyalungu R640 000 in kontant vir sy Range Rover betaal het en ook ‘n Toyota Fortuner gekoop het waarvoor hy R290 000 in kontant betaal het.

Die batebeslagleggingseenheid het ‘n aansoek voor die hooggeregshof gebring om al die kontant, asook Nyalungu se voertuie, verbeurd te verklaar aan die staat. Die hof het die aansoek toegestaan.

SANParke was die “slagoffer” van Nyalungu se beweerde misdade omdat die renosters in die widtuin gestroop is en die geld moes dus aan dié liggaam oorbetaal word. Die voertuie gaan nou verkoop word en dié opbrengste sal ook aan SANParke gegee word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version