Community galleriesGalleriesLocal newsNews

Die lelikste hond word aangekondig

Elke honde-eienaar dink sy of haar brakkie is die pragtigste dingetjie op aarde. Dit nou ten spyte van hare wat in alle rigtings staan, tande wat uitsteek en tonge wat uithang. Tog, as mens na sommige van hierdie skepsels kyk, kan jy nie help om twee keer te kyk om seker te maak dis wel 'n hond nie.

Dit vat baie vir ‘n persoon om jou hond in te skryf vir ‘n lelikste hond in die dorp-kompetisie. En dis presies wat Steelburger/Lydenburg Nuus gedoen het. Wat begin het as ‘n onderwerp vir bloot ‘n artikel, het ontaard as ‘n kompetisie vir die dorp se lelikste hond. Kort na die plasing op Steelburger/Lydenburg Nuus se Facebook-blad, het die foto’s begin instroom. Vlooi Taxi, ‘n hondesalon in Lydenburg, het die plasing gesien en het sommer daar en dan ‘n maand se pakket by die salon vir die wen-hondjie geborg.

Die eienaardigste viervoetiges is ingeskryf vir die kompetisie. Met sommige is die spreekwoord “‘n gesig wat net ‘n ma sal kan liefhê” wel gepas.

Die kompetisie was baie informeel. Die hondjies wat ingeskryf is se foto’s is uitgedruk en twee lede van die publiek, sowel as die Burgersfort-tak van die Steelburger/Lydenburg Nuus se personeel het gestem. Dit was definitief nie ‘n maklike besluit nie en die koerant het effe skuldig gevoel om die lelikste hondjie aan te kondig.

Lees ook meer hier: Diere sterilisasies

Die wenner van die kompetisie was Milo. Milo is ‘n steekhaar-reunhond. Hy was veronderstel om ‘n chihuahua te wees, maar dinge het lelik skeefgeloop iewers. Ten spyte daarvan dink sy eienaar, Ceciel Ehlers, hy is die mooiste hond op die aarde met die oulikste persoonlikheid.

“Hy was in November een jaar oud. Hy probeer vreeslik kwaai wees as iemand net te naby aan my staan, maar hy byt glad nie. Hy dink hy is ‘n leeu, maar hy slaap elke aand saam met my onder die duvet,” vertel Ehlers.

Volgende week sal ‘n foto geplaas word van die prysoorhandiging deur die borge van die unieke kompetisie aan Milo en sy trotse eienaar.

Back to top button