Video: Gevaarlike speletjie steek plaaslik sy kop uit

'n Gevaarlike speletjie wat daarop gemik is om 'n persoon doelbewus op sy kop te laat val, het onlangs baie kommer onder plaaslike ouers gewek.

Verskeie besorgde ouers het Steelburger/Lydenburg Nuus gekontak en meegedeel dat die speletjie nou ook plaaslik gewild raak. Hulle het versoek om anoniem te bly om die identiteit van hul kinders en waar dié skoolgaan, te beskerm.

Die video wat verantwoordelik is vir al die kommer, is steeds te sien op Facebook en die gewilde TikTok-toepassing. Op die video kan daar gesien word hoe drie leerders hand om die lyf staan. Die middelste een spring op en af, en op ‘n spesifieke oomblik skop die twee aan weerskante sy voete onder hom/haar uit.

Die speletjie eindig in minder as ‘n minuut en die middelste leerder val hard op die vloer. Wat dit so gewild en ook gevaarlik maak, is die feit dat die een in die middel nie weet wanneer hy/sy gaan val nie. Daar is dus nie tyd om voor te berei vir die val nie. Dit veroorsaak gewoonlik dat die persoon sy/haar kop hard teen die grond stamp. Deelnemers aan dié speletjie moet dan toekyk hoe die persoon bewusteloos op die vloer lê sonder om enige hulp aan te bied.

Die kopstampery is natuurlik waar die speletjie se naam “skull-breaker” vandaan kom. ‘n Selfoon word gewoonlik gebruik om die hele petalje te verfilm.

Wat kommerwekkend is, is dat selfs volwassenes deelneem aan dié vorm van gevaarlike “pret”.

Die ouers wat die koerant gekontak het, het gemeen dat hulle wel hul kinders ingelig het oor die gevare van die spel en hulle is versoek om hulle maats aan te moedig om nie daaraan deel te neem nie.

Enige ander kinders wat dit wel doen, moet liefs by onderwysers verkla word.

Die speletjie het sy oorsprong vanuit die VSA en daar is reeds gevalle aangemeld waar kinders sowel as volwassenes ernstig beseer en mediese behandeling moes ontvang. Alhoewel daar na die “skull-breaker” as ‘n speletjie verwys word, is dit alles behalwe ‘n prettige spel.

 ‘n Voorbeeld van ‘n soortgelyke voorval is hieronder geplaas. Ouers word aangeraai om daarna te kyk en hulle kinders in te lig en te waarsku teen die gevare.

Exit mobile version