Community galleriesGalleriesLocal newsNews

2019 Oesfees ‘n reuse sukses

Die NG Gemeente Lydenburg-Suid het die afgelope naweek hul jaarlikse Oesfees gehou en dit was weer eens 'n lekker geselligheid op die kerkterrein in Bergstraat.

Vrydagaand is soos elke jaar ingelui met die kinders se koekversierkompetisie in die kerksaal, gevolg deur ‘n dorpsbraai met vermaak deur Johan en Nicolene se Citation-duo. Saterdag was dit soos van ouds – die ene pannekoek en pizza, pap en kaiings, ‘n ma se ontbyt, kerrie-en-rys, billike vleis en witolifant-stalletjies soos dit by ‘n kerkbasaar hoort.

Lees meer oor ander aangeleenthede: Basaar sorg vir lekker pret

Die gewilde warrior-resies was beslis weer ‘n hoogtepunt op die program met die jongklomp wat hulle nie laat afskrik het deur modder nie!

Wat vanjaar se Oesfees anders maak, is dat dit die aanloop was tot die gemeente se 50-jarige feesviering op Sondag 17 November. Om dié mylpaal te herdenk, word 50 bome in die gemeenskap geplant. Die eerste sarsie is Sondag voor die hospitaal geplant.

Nog basaar nuus: Die Doppers kan basaar hou

Die parkies in Beetgestraat en by die gholfbaan sal ook bome kry en mense wat wil deelneem aan die projek, is welkom om eerskomende Sondag om 11:00 by die gholfbaan op te daag. Daar is geleentheid om ‘n boom vir ‘n ontslape geliefde te plant of aan te neem. Vir meer inligting, skakel die kerkkantoor soggens by 013-235-3329 of vir JP Celliers by 013-23-7343.

Di. Fred en Antoinette Wilson bedank Lydenburgers vir hulle ondersteuning. Hierdie fondse stel die gemeente in staat om weer terug te ploeg in die gemeenskap.

Back to top button