Animals

Perde siekte

Volgens statistiek vir die eerste vier maande van die jaar is 71 gevalle aangemeld, 45 het gevrek en 26 oorleef. Die enigste voorsorg wat eienaars kan tref, is jaarlikse inenting.

BURGERSFORT – Een klein muggie is elke jaar verantwoordelik vir duisende vrektes onder perde. Afrika-perdesiekte is presies wat die naam sê, ‘n siekte wat by perde voorkom en ook net in Afrika aangetref word. Dié Culicoides-muggie kom in die somermaande meestal naby waterbronne voor en is ook verantwoordelik vir bloutong by skape.

Die dier wat dan gesteek word en die virus optel, het ‘n 70% to 90% kans om te vrek.

Die relevansie hiervan vir ons is dat min mense weet hoeveel perde in ons omgewing is. Sommige van die eienaars is nie bewus van die siektetoetand nie en dit is kommerwekkend. Volgens www.africanhorsesickness.co.za is dit ‘n virus wat vinnig versprei, maar nie aansteeklik is nie. Hierdie siekte manisfesteer op drie maniere: die longvorm, die hartvorm, en die gekombineerde vorm. Die longvorm staan ook bekend as dunkopperdesiekte en het die volgende simptome: hoë temperature (koors), die perd sukkel om asem te haal, die bek hang oop, ‘n dik geel afskeiding kom uit die neus en die dier vrek skielik. Perde wat met dunkop gediagnoseer word, het ‘n 10% kans op oorlewing.

In die geval van die hartvorm van die siekte, ook dikkopperdesiekte genoem, kom swelling bo die oë voor. Soms sal die hele gesig en kop opswel.Ander tekens is bloeding in die oë en ore en ook koliekverwante simptome. Perde wat aan dikkop ly het ‘n 50% kans op oorlewing Die gekombineerde vorm is ‘n kombinasie van die dunkop en dikkop. ‘n Veearts moet onmiddellik ontbied word indien daar vermoed word dat jou perd perdesiekte het. Dit is kommerwekkend om op sosiale media te sien hoeveel perde weens hierdie siekte vrek.

Volgens statistiek vir die eerste vier maande van die jaar is 71 gevalle aangemeld, 45 het gevrek en 26 oorleef. Die enigste voorsorg wat eienaars kan tref, is jaarlikse inenting.

Dit word gewoonlik in September gedoen en hoewel dit teenliggame in die dier opbou, waarborg dit nie dat jou perd nie die siekte gaan opdoen nie.Die beste manier om dit te voorkom, is om jou perd daagliks te ondersoek en die simptome te identifiseer sodat behandeling so gou as moontlik kan begin.

Baie eienaars behandel ook hulle perde met meer tradisionele medikasie soos dagga-olie. Daar kan egter nie bevestig word of dit wel suksesvol was om perde deur te trek nie, maar eienaars glo vas dit is die geheime bestanddeel.Jou veearts sal moontlik Phenylbutazone toedien om die koors onder beheer te kry en dan verdere medikasie om die perd te stabiliseer. Bloedtoetse wat deur ‘n veearts gedoen word, is die enigste manier om vas te stel of die perd wel aan die siekte ly. Voorkoming is beter as genesing. Sodra jy iets vreemds vermoed, kontak onmiddellik ‘n veearts. Hoewel daar meestal net na perde verwys word, sluit dit donkies en muile ook in.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button