Editor's note

Oscar Pistorius in die nuus

Vir die eerste keer vandat Twitter sy verskyning gemaak het, was ek ook vasgevang in die minuut-op-minuut terugvoering wat met die wêreld gedeel is.

Die afgelope week het alles en almal op ‘n kol tot stilstand gekom. Die nuus van Oscar Pistorius wat sy meisie, Reeva Steenkamp, geskiet het, oorheers alles. Dis asof ‘n mens nie jou kop om dié tragedie kan kry nie.

Dis verskriklik. Met die borgaansoek die afgelope drie dae, het honderde mediaspanne op die hof toegesak. Met die ink wat dik deur my are loop, het ek meer as een keer sedert die gebeurtenis gewens ek kon ook “die storie” dek. Vir joernaliste is so ‘n storie “die groot een” waarvoor jy hoop. Dis sleg dat ‘n tragedie joernaliste “opgewonde” kan maak, maar dis hoe ons tik. Ons hoop nie dat slegte goed gebeur nie, maar as dit doen, wil ons dit tot op die been oopvlek en weet wat aangaan. Sommiges haat ons daarvoor, ander beny die kans.

Vir die eerste keer vandat Twitter sy verskyning gemaak het, was ek ook vasgevang in die minuut-op-minuut terugvoering wat met die wêreld gedeel is. Baie lesers (beslis my ma) gaan vra, “Maar wat op aarde is dié Twitter en sy Tweets dan?” Dis soos sms, maar jy het honderde of duisende mense wat dit onmiddellik kan lees en in plaas van om dit net op ‘n rekenaar te lees, kan jy die inligting op jou selfoon kry. In die hof is daar vir elke mediaspan ten minste een persoon wat net sit en Tweet. En met dié nuwe vorm van kommunikasie het ons ‘n nuwe era van digitale media betree. Niemand hoef meer te wag tot die volgende nuusbulletin of koerant om te weet wat by ‘n groot nuus aangeleentheid afspeel nie.

Dis alles daar vir jou om te lees op Twitter. In kort sinnetjies, staccato-styl, word dit uitgespoeg: “Oscar huil. Familie troos. Verdediging vra afstaan”. En twee minute later: “Hof begin. Hy het gedink sy is in bed. Skiet deur die deur. Loop op stompies.” Die Tweets hou jou vasgenael want jy kry klein happies. Intussen het almal hul opinie. Wie praat die waarheid? Is hy skuldig of was dit net ‘n ongeluk? Ons gaan almal geduldig moet wag want hierdie saak gaan die wêreld nog vir maande op die punte van hul stoele laat sit.

Op ‘n baie positiewe noot, en my kollega het my ongelukkig Dinsdag voorgespring met ‘n berig daaroor, wil ek net my indrukke gee van verlede Vrydag se Pumas vs Sharks-wedstryd by KaNyamazane Stadion. Ek is geen rugbyskrywer nie en die Pumas sal seker die nederlaag eerder wil vergeet, maar daar is iets veel groter as die puntebord wat gebeur het.

En dít is wat ons gemeenskap eerder moet onthou. Wat ‘n ongelooflike ervaring was dit nie om vir die eerste keer in my lewe ‘n aand in een van ons swart tuisdorpe te spandeer nie! Soveel gasvryheid het ek lanklaas ervaar. Die pawiljoen was volgepak en KaNyamazane was daar om te ondersteun. In gesprekke het baie erken hulle weet maar min van rugby, maar een jongman het vir my ‘n groot waarheid gespreek toe hy sê: “Ons is almal vir sport, dis wat ons mense bymekaarbring”. Niemand het gekla omdat ‘n deel van hul straat toegemaak is, of dat busse vol “vreemdes” hul dorp ingevaar het nie.

Inteendeel het die plaaslike mense ons na die tyd hartlik ingenooi om saam met hulle te kuier. Dankie KaNymanzane, ngiyabonga kakhulu! Dit was ‘n fees.

You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button