Local news

Hof verwys Mbombela-briefskrywer van bomdreigemente na Weskoppies

Die hof het die vrou wat vroeër vanjaar aantygings van bomme op die Innibos-feesterein en elders gemaak het, nietoerekeningsvatbaar verklaar.

Die 38-jarige vrou wat in Junie in hegtenis geneem is nadat sy na bewering bomdreigemente gemaak het oor ploftoestelle wat glo onder meer by Innibos gestel was, gaan nie vervolg word nie.

Aneke Buitendag is op 28 Junie aangekeer nadat sy in ‘n brief aan ‘n plaaslike radiostasie beweer het dat daar bomme by die Innibos-feesterrein by Hoërskool Bergvlam, St Peter’s School en Hoërskool Nelspruit geplant is.

LEES OOK: Vrou vas ná brief oor beweerde bomplantings in Mbombela

Sy het in die brief, wat in ‘n mengelmoes van Afrikaans en Engels geskryf is, oor die bomme uitgewei. Sy het sinneloos gerammel oor jong kinders en oumense wat ‘verkoop’ en ‘gemartel’ word. Sy het ook beweer mense is vir ‘menslike eksperimentasie’ gebruik.

Die polisie het haar kort na die brief, wat onder ‘n skuilnaam ‘geenomgeesa’ uitgestuur is, maklik vasgetrek omdat sy haar selfoonnommer op die dokument geskryf het.

LEES OOK: Sielkundige waarneming vir Mbombela vrou ná ‘bomdreigemente’

‘n Sielkundige verslag wat onlangs aan die hof ingedien is dui aan dat Buitendag ná sielkundige evaluasie by Rob Ferreira Hospitaal met skisofrenie gediagnoseer is. Die hof het beslis dat sy nie toerekeningsvatbaar vir die kriminele saak is nie, en sy is as ‘n staatspasiënt na Weskoppies Psigiatriese Hospitaal in Pretoria verwys. Hier sal sy deur ‘n span kundiges verdere observasie en behandeling ondergaan.

Sy is tans in aanhouding in die hospitaalafdeling van die tronk in die stad terwyl daar vir ‘n bed by Weskoppies gewag word.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De Bruyn has been employed by Caxton since 2009. After a short sabbatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editor duties behind his name.
Back to top button