Local news

Ysige koue deur engelstem in Kaapsehoop-kapel verdryf

Met net haar kitaar, gedigte en hemelse engelstem het Lucinda Neethling die gaste tydens die Boekenaweek in vervoering gehad.

Warm klanke en ’n hemelse engelstem het Vrydagaand 30 Augustus die eerste ysige koue dag van die Innibos Boekenaweek met ’n musiekvertoning deur Lucinda Neethling in die Pronoia-kapel bo in die mistige bergdorpie afgesluit.

Neethling, hoofsanger en liedjieskrywer van Die Melktert Komisssie-faam, se opvoering van haar solo-album, Uitgeskryf, was meesterlik, en soos sy dit tydens die opening van die liriekgedrewe vertoning gestel het: “Een keer ’n tert, altyd ’n tert!”

LEES OOK: Mistige nat Natsteen-naweek op Kaapsehoop: sielsvreugde

Sy het Annemarie van der Walt, die organiseerder van die Innibos Boekenaweek, hartlik bedank.

@lowvelder

Die boekgesprekke is vir nou eers opsygeskuif en die gaste geniet Lucinda Neethling van Die Melktert Kommissie-faam se solo-vertolking van “Uitgeskryf”. Sterk liriekgedrewe musiek en kleinkuns op sy beste. Moet nie dag twee, môre, 31 Augustus, misloop nie. Laevelder hou julle môre op hoogte. #boekenaweek #kaapsehoop

♬ original sound – Lowveld Media

“Baie dankie dat julle my genooi het. My heel eerste skrywerslypskool het ek juis hier in dié kapel bygewoon, so dit is vir my ’n groot eer om hier voor julle te kan staan.”

Neethling het ’n groot liefde vir kunsgeskiedenis, en dit was duidelik te beleef in haar vertolking van haar gedigte.

Haar lied, “Rede vir vrede”, spruit uit internettrolle wat so vinnig op sosiale media kan spring.

“Ek moet myself ook baie keer byt en knyp en op my tong byt om niks te sê nie. Miskien oor ’n week wil jy dalk nie eers meer oor ’n pos kommentaar lewer nie. Mense moet altyd besef dat daar nagevolge gaan wees oor jou woorde. Ek is nie ’n internettrol nie; ek is daar vir vrede.”

Moeder-Aarde” se lirieke, begelei met haar engelstem en kitaar, het voorwaar die ysige kapel met meelewing opgewarm.

Neethling is vol kwinkslae en gemaklik op die verhoog, sonder aanspraak.

“My musiek het verlede week in ’n Checkers gespeel toe ek daar instap, tot my verbasing. Nou hoop ek dit sal ook in Dis-Chem gebeur. Daar is immers meer voete, want hulle het nie Checkers Sixty60-scooters nie. Wie weet, dalk speel Woolworths volgende jaar my musiek!” het sy skertsend gesê.

Sy het die aand met “Song vir ewige troos” en die volgende trooswoorde afgesluit: “Geniet die res van die Boekenaweek.”

’n Harde applous in die vol kapel het net bevestig dat as jou gemoed deur kleinkuns op sy beste geprikkel word, jy nie dié Boekenaweek kan misloop nie.

LEES OOK: Bladsy vir bladsy was die Innibos Boekenaweek die blaai werd

Back to top button