Local sportSport

Alicia Bullen skitter tydens IFBB se SA kampioenskappe

'n Plaaslike atleet, Alicia Bullen, het weer eens haar staal gewys deur haar SA kleure in die internasionale liggaamsbou- en fiksheidfederasie (IFBB) se Speedfit-kategorie te ontvang.

Alicia Bullen, ‘n oud-Lydenburger en huidige Mbombela-inwoner, het onlangs weer haar vaardigheid bewys deur haar Protea-kleure in die internasionale liggaamsbou- en fiksheidfederasie (IFBB) se Speedfit-kategorie te verwerf.

Speedfit (ook bekend as fitness challenge), ‘n relatief nuwe dissipline in die Suid-Afrikaanse sportarena, het eers die afgelope twee jaar aandag begin trek. Bullen het onlangs aan die IFBB se SA kampioenskappe deelgeneem en haarself goed van haar taak gekwyt. Die kompetisie het vanaf 2 tot 4 Augustus in Durban plaasgevind en sy het in drie verskillende afdelings haar stempel afgedruk.

Onder die opevroue 24 tot 35 jaar -afdeling het sy ‘n silwer medalje gewerf, asook in die gemengde paartjieafdeling saam met Stefus Janse van Rensburg. Maar dit was in die meestersvroueafdeling (35+) waar sy goud gewen het en met die louere weggestap het. Sy het verlede jaar ook SA’s gewen.

LEES OOK: Gold medal in fitness challenge for Lydenburg athlete

Nog ‘n trotse aspek van dié jaar se SA kampioenskappe is dat Bullen haar Protea-kleure ontvang het, wat sy deur haar deelname aan verlede jaar se IFBB-wêreldkampioenskappe verwerf het.

Speedfit behels ses stasies waarby die atlete ‘n maksimum hoeveelheid repetisies moet baasraak. Daar is ses bewegings wat optrekke, duike, spronge, Jefferson-hurke en ander bewegings insluit.

Bullen se doel was om Protea-kleure te werf. “Sport is my passie. Dit was nog altyd. Ek is in ‘n ware sin ‘n fiksheidsfanatikus.” Dié bekwame atleet het twee jaar gelede na Mbombela toe getrek om ‘n professionele atleet te wees. Sy oefen tans by die LowMed Health and Sports Performance Centre.

Alicia Bullen het onlangs haar Protea-kleure verwerf. > Foto’s: Verskaf/Alicia Bullen Fitness

Fiksheid en oefening is deel van die pakket, maar volgens Bullen is eetgewoontes net so ‘n groot deel van die sport. “Jy moet gesond eet. Jy kan nie besluit jy kul vandag en gaan na ‘n braai, drink ‘n paar drankies en eet ongesond nie. Jy moet daai wils- en dryfkrag hê, en dit kan soms ‘n eensame reis wees,” verduidelik sy.

Haar daaglikse roetine behels tot vyf ure se streng oefening. Hierdie intense regime skerp nie net haar vaardighede op nie, maar wys ook dat sy vasbeslote is om in ‘n mededingende omgewing uit te blink. Dit is juis te danke aan haar toewyding dat dié atleet nie minder as 25 medaljes in agt kompetisies ingepalm het nie. Dit sluit ‘n derde plek by verlede jaar se wêreldkampioenskappe in.

Bullen is tans 10de op die wêreldranglys, en sy berei nou voor om Suid-Afrika vanjaar vanaf 31 Oktober tot 6 November by die IFBB-wêreldkampioenskappe in Spanje te verteenwoordig.

Sy het tans twee borge, naamlik Lydenburg Toyota en LowMed Health and Sport Performance Centre in Mbombela, maar ongelukkig dek dit nie al haar onkostes nie. Diegene wat daarin sou belangstel om haar te help, kan Bullen deur haar Facebook- of Instagram-platforms kontak.

Back to top button