Innibos Boekenaweek 2024

Lekkerleessaamtrek vir boekwurms op Kaapsehoop

Alle paaie lei dié naweek na hierdie toeristedorpie waar boekliefhebbers van die nuutste pennevrugte op die rak, lekker geselsprogramme en solovertonings van musiek en woord kan ontdek.

Dit is ook die gewilde Natsteen-saamtrek by die Nagkantoor Kuierkroeg van De Wet Potgieter, waar baie joernaliste byeentrek.

Die boekbesprekings is soos volg:

Vrydag, 30 Augustus
Kapel, Kaapsehoop

• Contraband – De Wet Potgieter
Contraband is about investigative journalism, which can be a very dangerous occupation when criminals are the subject. There is often a very thin line separating bravery from stupidity, and De Wet is a master at walking this tightrope.
Time: 15:00 to 16:00

De Wet Potgieter.

• Seun – Dana Snyman
’n Rou, selfonthullende memoir wat vra hoe word ’n seun ’n man? ’n Seun wat nie goed genoeg vir die weermag is nie. Dit is ’n aangrypende relaas oor grootword tydens die dood van ’n politieke bestel in die 1980’s, en hoe liefde eindelik kan seëvier.
Tyd: 16:00 tot 17:00

Dana Snyman.


• Lucinda Neethling, musiekvertoning
Lucinda Neethling van Die Melktert Kommissie-faam maak musiek, meestal van haar soloalbum Uitgeskryf. Met sterk liriekgedrewe musiek is dit kleinkuns op sy beste. Moet dit nie misloop nie.
Tyd: 18:00 tot 19:00
Plek: Silver Mist, Kapel –  Kaapsehoop

Lucinda Neethling.

Die Kapel.

Saterdag, 31 Augustus
Kapel, Kaapsehoop

Die beweging van bloed – Pieter Stoffberg
Prof. Nino Everhard word op sy kombuisvloer wakker met bloed oral. Iemand het ingebreek en hom en sy vrou aangeval, maar niks is gesteel nie. Wat wou die aanvaller hê? Die beweging van bloed is ’n naelbytspanningsverhaal wat jou tot die einde aan die raai hou.

Silver Mist – Kaapsehoop
Tyd: 08:00 tot 09:00

Pieter Stoffberg.

• Fanie Viljoen en Constant van Graan
Die bekroonde kinder- en jeugboekskrywer, Fanie Viljoen, het al ’n magdom boeke geskryf, en die jongste uit sy pen is die Springboekie. Constant van Graan se Geheim tussen die riete het ook pas verskyn, en die twee skrywers gesels oor die verbeeldingswêreld wat hulle vir jong lesers skep.
Tyd: 09:30 tot 10:30

Constant van Graan.

Chanette Paul en Dibi Breytenbach
Chanette en Dibi is twee skrywers met voorkeur vir sterk vrouekarakters. Hulle gesels met mekaar oor Chanette se boek Anoniem, en Dibi se jongste, Heks. Daar is meer as genoeg spanning, sprokies en vroue wat hulle nie laat voorsê nie.
Tyd: 11:00 tot 12:00

 

Dibi Breytenbach .

Chanette Paul.

• Bloedbroers – Deon Lamprecht
Op 10 Junie 1980 gedurende ’n eindelose dag van bloedige gevegte onder die Angolese son is 13 lede van die Suid-Afrikaanse Weermag dood en etlike beseer toe 61 Gemeganiseerde Bataljongroep ’n kompleks van Swapo-basisse in die suide van Angola aangeval het.
Bloedbroers vertel van die oorlewendes van hul ervarings tydens die geveg. Dit werp lig op wat met soldate gebeur nadat die laaste skote afgevuur is en volg die veterane toe hulle vier dekades na die operasie vir die eerste keer na die slagveld teruggekeer het.
Tyd: 12:30 tot 13:00

Deon Lamprecht.

 Middagete: 13:30 tot 14:00

• How to Fix (Unf*ck) a Country – Roy Havemann
After state capture, South Africa is not in a good place. The system is down. How do we reboot? We are not the first country to find itself in a difficult spot.
In this book, Roy Havenmann argues that right now we need to focus on six basic Es: Eskom, education, the environment, exports, ethics and equality. Sometimes the solutions to our problems are right here in our very own country – all that is needed is for us to recognise and harness them.
Time: 14:00 to 15:00

Dr. Roy Havemann.

BEELD 50: Om ’n groot storie hard te slaan – Erika de Beer en Barnard Beukman
Die afgelope halfeeu het meer as 15 000 uitgawes van Beeld verskyn met derduisende stories in woord en beeld. Regdeur hierdie 50 jaar is ’n mantra in die redaksie ‘slaan die groot storie hard’. In Beeld 50 vertel die geliefde koerant se joernaliste hoe hulle deur die dekades juis dit gedoen het en wat hulle steeds van daardie ervarings bybly.
Tyd: 15:30 tot 16:30


Sondag, 1 September

21 Voices from Israel and South Africa: Why the Palestanian Stuggle Matters – Marthie Momberg
The conversations with 21 activists from South Africa and Israel who campaign for Palestinian rights shatter perceptions cultivated by widespread propaganda to show that the issue is after all not so difficult to understand. One by one they connect the private and the public, the particular and the general, the conceptual and the practical, the local and the global.
Time: 09:00 to 10:00

 

Marthie Momberg.

Commando – Fransjohan Pretorius
The definitive account of Commando: A Boer Journal of the Anglo-Boer War, published word for word as Reitz first wrote it; edited and annotated by historian and Anglo-Boer war expert, Prof Fransjohan Pretorius.
Time: 10:00 to 11:00

Fransjohan Pretorius.

Die Kapel – Kaapsehoop.

Kaartjies is by die deur te koop (slegs kaarttransaksies).

LEES OOK: IN FOTO’S: ‘n Wenresep wat smaak na sukses by Innibos 2024

Lucinda se vertoning kos R150. Die boekgesprekke is R40 elk of koop ‘n naweekpas vir R200.

Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na annemarie@innibos.co.za.

PROGRAM

'n Natsteen-boekenaweek soos g’n ander

Deur: Bertus de Bruyn

Dit is tyd vir die groot saamtrek.

En nie sommer enige saamtrek nie! Dis die spreekwoordelike groot trek van joernaliste na Kaapsehoop vir die nou reeds ingestelde Natsteen-naweek.

Nagkantoor. >Foto: Bertus de Bruyn

Die gebeurtenis val ook saam met die Innibos Boekenaweek, en De Wet Potgieter, gesoute oudjoernalis en eienaar van die bekroonde Nagkantoor Kuierkroeg, vertel dat hulle besluit het om die Natsteen en Innibos Boekefees saam aan te bied.

Inge Kuhn, hoofredakteur van Rapport, Marinda van der Walt, Tim du Plessis en Sarel van der Walt by Nagkantoor verlede jaar. > Foto’s: Verskaf/De Wet Potgieter

“Dit is ter viering van Beeld se 50-jarige gedenkboek wat ook tydens die Boekenaweek bekendgestel gaan word. Die dryfkrag en samesteller is Erika de Beer,” sê hy.

Nagkantoor. >Foto: Bertus de Bruyn

Vir diegene wat nie bekend met die term ‘natsteen’ is nie, verduidelik Potgieter dit soos volg: “’n Natsteen was daardie gebruik by koerante waar die redaksie en mense van die werksafdeling saans na spertyd onder in die fabriek saamkuier.”

Nagkantoor. > Foto: Bertus de Bruyn

En dat die geleentheid ’n lekker saamkuier gaan wees, is gewis!

Harald en Aletta Pakendoirf en wyle Alita Steenkamp tydens verlede jaar se saamtrek.

Dit gaan uiteraard ook ’n naweek van boeke wees – op papier, die voel daarvan, die reuk en die meelewing daarvan in woorde – in druk, natuurlik.

Marius Bakkes, Nico van Burick en Andreas Jordaan.

En lekker boekgesprekke saam met die skrywers in die kapel op Kaapsehoop.

Laevelder se nuutste uitgawe is ook tydens die boekenaweek gratis op te raap vir lekker leesgenot.

Maar hoe voel Potgieter oor die frase ‘Print is not dead’?

“Ek dink koerantpapier is reeds op sy sterwensbed, maar wat Koos Bekker nou doen is om die kar voor die perde in te span. Hoe kan ’n mens koerante lukraak toemaak terwyl daardie publikasies se aanlynweergawes nog vaal, oninteressant en glad nie behoorlik uitgelê en beplan is nie?”

Oordat boeke en koerante in die nabye toekoms dalk moontlik net aanlyn gelees sal kan word, en soos baie ‘boekwurms’ reeds die nuus en hulle gustelingboeke aanlyn lees, voel Potgieter ook anders.

“Die aanlynkoerante lees moeilik, is deurmekaar en moet eers behoorlik georden en saamgestel word. Gedrukte boeke se lewensvatbaarheid is nog goed, want mense verkies om ’n boek in die hand te lees eerder as op ’n Kindle.”

Wat die naweek betref gaan dit boekgesprek op boekgesprek wees. Van die bekende skrywers is onder meer Dana Snyman, Dibi Breytenbach, Chanette Paul en Deon Lamprecht.

Saterdag sal die boekgesprekke voortduur, maar daar gaan ook in groen Springbok-luim na die rugbywedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks op Nagkantoor se grootskerm in Oppitoneel gekyk word, terwyl Sakkie van Rooyen twee skape op spit vir al die natsteners gaan braai.

Natuurlik is daar iets vir die kele, en Saronsberglandgoed van Tulbach het heerlike wyne vir die kuier geskenk.

Wyle Koos du Plessis se foto wat pryk in Nagkantoot. >Foto: Bertus de Bruyn

Besoekers sal ook die geleentheid hê om skouers te skuur met van die groot bekende name in die koerantwese, soos Tim du Plessis, Barnard Beukman, Hennie van Deventer, Foeta Krige, Dana Snyman en hele klomp van ons land se topskrywers.

Moet hierdie naweek nie misloop nie – pak jou leesbril, bring jou boekmerk en geniet elke oomblik.

Subtiele ontwerp bring versagting vir wreedheid

Deur: Bertus de Bruyn

As ’n leser De Wet Potgieter se nuwe pennevrug, Contraband, vashou, is die eerste gevoel wat by jou opkom een van groot afwagting.

Hoe dan ook nou anders, want met so ’n treffende omslagontwerp is die toon klaar gestel vir die harde waarheid wat woord vir woord geopenbaar gaan word – en dit maar net in die voorbladskets.

Want dis die duidelike prentjie dat hier in woord nie met emosies rondgesmokkel gaan word nie, en dat die harde waarheid ontbloot gaan word.

Dié treffende omslag is ontwerp deur Potgieter se jarelange vriendin, Mellissa Bushby. Bushby is tans die redakteur van die Get It Lowveld-tydskrif in die Laeveld Media-stal van Caxton.

Hierdie merkwaardige mens is ook ’n kunstenaar by uitstek, skrywer en keramikus. Bushby vertel dat Potgieter haar ’n tydjie gelede genader het en haar vertel het wat hy in gedagte vir die omslag vir sy nuwe boek het.

“De Wet het my gevra of ek ’n illustrasie vir die omslag van Contraband kan maak wat die aard van die inhoud van die boek sal weerspieël,” sê sy.

Die omslagskets is deur Mellissa Bushby, en die ontwerp deur Wessel Cöhrs.

Renostersropery is ’n onderwerp wat baie naby aan Bushby se hart lê, en sy vertel dat sy nie een oomblik gehuiwer het nie. Met haar esel opgeslaan, ink, vloeibare graniet en houtskool het sy al drie die mediums gekombineer tot die eindproduk wat nou op die omslag pryk.

“Ek verafsku wreedheid en die wreedheid waarmee hierdie diere uitgewis word. Dit is afgryslik, om nie eens te praat van die jong kalwers wat agterbly en nie na hulself kan kyk nie,” sê Bushby.

Wat vir haar nog meer vreesaanjaend is, is die feit “dat hulle besig is om ’n spesie te vernietig wat al vir eeue bestaan. Hul voorgeslag dateer terug na meer as 50 miljoen jaar gelede. Baie langer as wat die mensdom bestaan. Elke skepsel het ’n reg op hul plek op aarde,” vertel sy filosofies.

Mellissa Bushby. > Foto: Bertus de Bruyn

Maar terug na die skets, wou Laevelder graag weet wat haar inspirasie was en wat die boodskap is wat sy graag in haar skets wou weerspieël.

Sy sê dit is verlatenheid en die vernietiging van dit wat is.

“Die verlatenheid van die agtergrond is om uit te beeld dat as ons aarde verwoes is daar geen terugkeer is nie – daar sal niks meer oorbly as renosterstopery nie hokgeslaan word nie. Die skietwond en die dooie renoster is om hartseer te ontlok in die nutteloosheid en hopeloosheid van stropery. Niks is die vernietiging en verwoesting wat hierdie boosaards aanrig werd nie.”

Dit was Bushby se eerste opdrag vir ’n boekomslag, en sy sê dat sy ’n paar weke daaraan gewerk het.

Maar soos elke kunstenaar se kunswerk is daar tog ook ’n boodskap wat sy wil oordra, en Bushby s’n is om op ’n subtiele benadering op die wreedheid te versag, ten spyte van die erge aard van stropery.

Dink sy dat ’n grafiese foto op die omslag meer impak sou hê?

“Ek wou ’n ander benadering hê. Ek voel dat ons gebombardeer word met grafiese beelde en die wrede maniere waarop hierdie arme antieke diere doodgemaak word. Ek dink dat mense op ’n sekere manier immuun raak – of hul harte verhard – teen die stortvloed van beelde. Dit is oorweldigend en ontstellend. Ek dink iets met ’n meer subtiele benadering vertel ’n ander storie, hoewel die boodskap dieselfde is.”

En so vir oulaas vra ons haar of sy weer hand op papier sal sit vir ’n outeur as die geleentheid hom voordoen vir die ontwerp van ’n omslag.

Sonder aarseling kom die antwoord: “Ek sal dit weer doen, enige tyd, vir enige genre.”

Laevelder se eie Mellissa Bushby, gelukkigste op haar eie talentvolle kunsfront wanneer sy ook met haar talente, hetsy in woord, kuns, skets of keramiek, kan rondsmokkel.

Wessel Cöhrs, ook werksaam by Laeveld Media as uitlegkunstenaar, was verantwoordelik vir die boek se finale omslagontwerp.

Dankie aan ons Borge!

Laevelder se akkommodasie word goedgunstiglik deur Innibos by Silver Mist Country Inn geborg.

Address: 48 Kantoor St, Kaapschehoop, Ngodwana, 1209

www.silvermistgh.co.za
Back to top button