Local news

Laerskool Lydenburg herbevestig toewyding aan alle leerders se veiligheid ná boelievoorval

"Ons skool het duidelike beleide in plek om afknouery te voorkom en om vinnig en doeltreffend te reageer wanneer dit voorkom."

In ‘n onlangse voorval by Laerskool Lydenburg (LSL) het ‘n ontstellende saak van boeliegedrag gemeenskapsbekommernis en vinnige optrede deur die skooladministrasie en -beheerliggaam ontlok.

Die voorval het tydens klaswisseling op Woensdag, 17 Julie, by die skool plaasgevind.

Na wat verneem word het Mianay Sinden (10), ‘n gr. 5-leerder, vinnig geloop om by haar volgende klas uit te kom toe sy glo deur ‘n medeleerder, wat saam met ander in die gang gestaan het, gepooitjie is.

LEES OOK: Lydenburg-pa se hartroerende uitspraak ná boelie sy dogtertjie teiken

Sy het in die val ‘n been in haar pinkievinger gebreek, en haar kop teen een van die trappe gestamp. Sy moes verlede Donderdag ‘n klein chirurgiese prosedure vir haar pinkie in die Nelspruit Mediclinic ondergaan. Sy is Vrydag ná die operasie ontslaan en sterk tans tuis aan.

‘n Plasing oor die voorval is deur haar pa, Gerhard, op sosiale media gemaak. Dit het binne ure massiewe reaksie ontlok. Nie net is die plasing meer as 13 000 keer gedeel nie, maar dit het ook 3 200 reaksies gekry en meer as 1 000 kommentare teen Maandag dié week ontvang.

Die voorval het die voortdurende kwessie van afknouery in skole beklemtoon, wat LSL aangespoor het om sy verbintenis tot ‘n geen-verdraagsaamheidsbeleid teen enige vorm van afknouery te herhaal.

LEES OOK: Nellie-rugbyseun op herstelpad ná besering

In reaksie op die voorval het die skooladministrasie en -beheerliggaam proaktiewe stappe geneem om die saak deeglik aan te spreek en die veiligheid en welstand van alle leerders te verseker.

Mianay Sinden. Foto: Verskaf

Mianay se ma, Alicia Deysel, het haar tevredenheid met die skool se hantering van die voorval uitgespreek en beklemtoon dat LSL alle nodige protokolprosedures gevolg het.

Deysel wou nie direk met Steelburger/Lydenburg Nuus skakel nie, maar het ingestem dat ‘n kopie van ‘n verklaring wat sy aan die skool gestuur het, aan die koerant verskaf word.

Daarin beklemtoon sy dat sy glad nie die skool verantwoordelik hou vir die voorval nie, en haar enigste versoek was dat die leerders meer bewus gemaak moet word van die gevolge en impak van sulke gedrag.

Die koerant is Maandag ‘n onderhoud met die skool toegestaan, toe die skool ‘n verklaring uitgereik het wat die voorval in geheel aanspreek.

LEES OOK: Vuur by Xai Xai oord: Hengelaars op bote sien hoe huise begin brand

LSL se hoof, Cornelus Lemmer, en lede van die beheerliggaam, Erich Venter en Witte Aucamp, het Maandag tydens die onderhoud hulle verbintenis tot die bevordering van ‘n veilige en inklusiewe leeromgewing herbevestig, waarin elke leerder gerespekteer en beskerm voel. “Ons neem voorvalle van afknouery baie ernstig op,” het Lemmer gesê.

“Ons skool het duidelike beleide in plek om afknouery te voorkom en om vinnig en doeltreffend te reageer wanneer dit voorkom.”

Aucamp het op sy beurt gesê dat die skool geheel en al bewus was van die voorval.
“Ons het verseker dat die regte kanale gevolg word om die voorval aan te spreek.” Hy het bevestig dat ‘n ondersoek na die voorval tans gehandhaaf word.

Die voorval het gesprekke binne die skoolgemeenskap veroorsaak oor die belangrikheid van empatie, respek en vriendelikheid onder leerders. Verder het die skool, ouers en voogde verseker dat hulle daartoe verbind is om oop kommunikasielyne te handhaaf rakende voorvalle van afknouery en ander veiligheidskwessies.

Die skool moedig ouers aan om enige voorvalle spoedig aan te meld sodat dit vinnig en toepaslik aangespreek kan word.

Back to top button