Local news

Dapper vroue in Schoemanskloof-plaasrooftog – met saggeaarde rowers

'n Jeukende neus, gevriesde vleis en 'n gesteelde Bybel - dit was alles deel van 'n Schoemanskloof-plaasroofdrama.

Bangwees was nie deel van ons mondering nie, want die Koning was by ons.

So gesels Lyzette Smith (58) oor die gewapende roof wat sy en haar ma, Sina Oberholzer (84), verlede Donderdag 4 Julie op hulle plaas in die Schoemanskloof oorleef het.

Smith het kort na 08:00 nog met haar tweelingsuster, Izette van der Riet, oor die foon gepraat. Kort daarna is sy na buite om vir die honde kos te gee. “Ek het nog gebukkend gestaan toe ek vyf mans op my sien afstorm. Hulle het waarskynlik agter die motorhuis geskuil. Ek het eers besef wat gebeur toe van hulle my van agter gryp en my mond toedruk sodat ek nie kan skree nie,” vertel sy.

Sy sê die gemaskerde verdagtes het ‘n geweer wat soos ‘n AK-47 gelyk het, asook handwapens gehad waarmee hulle haar gedreig het. “Hulle het my huis toe gesleep. Toe ons in die kombuis kom het ek blou moord geskree om mammie te waarsku. Van die rowers is gang af en het mammie in haar kamer gaan haal. Hulle het ons hande agter ons rûe vasgemaak en voortdurend gesê hulle soek geld.”

Smith sê wat hulle verbaas het was die skynbare respek wat die rowers teenoor hulle getoon het.

“Hulle het nie daai wreedaardige kyk in hulle oë gehad soos wat ‘n mens van sulke aanvallers sou verwag nie. Ek het selfs vir hulle gesê hulle moet my ma nie op die vloer laat sit nie, want dis koud. Hulle het haar opgetel en ‘n lap onder haar neergesit!”

LEES OOK: Kyk: Laevelders ontruim na vlamme huise in Xai-Xai verswelg

Die rowers het die kluis se sleutel in die hande gekry en ‘n 303-geweer, ‘n .22-geweer en twee pistole daaruit gebuit. Hulle het ook twee skootrekenaars, selfone, haar gereedskapskis met sowat R50 000 se gereedskap daarin en ‘n TV gesteel. “Waaroor ek die hartseerste is, is die 22-karaat goue mes-en-vurkstel wat my oorlede man, Barry, met ons huweliksherdenking vir my as geskenk gegee het.”

Intussen het een van die plaaswerkers by die huis opgedaag. Die rowers het hom ook oorval en vasgebind. “Hy het so groot geskrik, hy het sy broek nat gepiepie,” sê Smith.

Die rowers het die twee vroue die waskamer ingedra en hulle voete met draadhangers, kabelbinders en kleefband vasgedraai. “Hulle het ook my mond met ‘n stuk kleefband toegeplak. Ironies genoeg het hulle seker gemaak my neus is nie ook toegeplak nie, sodat ek kon asemkry.”

Die rowers het die buit in haar Volkswagen City Golf gelaai en gevlug. Smith kon daarin slaag om haar voete los te kry en het op die Schoemanskloof-radiobeheerstelsel hulp ontbied. “In ‘n japtrap was daar tientalle mense op die plaas om te kom help. Daar was in ‘n stadium so baie voertuie op die plaas dat dit soos ‘n veiling se parkeerarea gelyk het!

“Gedurende die hele drie uur lange petalje was ons in geen stadium bang of bevrees nie. Dit was presies soos dit in die Bybel geskryf staan: daar was in ons vrede wat die verstand te bowe gaan.”

Sy sê daar was gedurende hulle aanhouding selfs ‘n lagwekkende oomblik. “Ek het my neus probeer krap, maar kon dit nie regkry nie. Een van die aanvallers het gevra wat ek probeer doen. Ek het hom gesê my neus jeuk. Hy het ewe nadergestaan en my neus gevryf!”

Kort na die aanval het die polisie ‘n soektog na die verdagtes van stapel gestuur. Kapt. Pieter Smit, die bevelvoerder van die Witrivier-blitspatrollie, was juis op die Kaapsehoop-pad van die stad af op pad Ngodwana toe.

Hy het gesien hoe die verdagte voertuig verby hom ry. Hy het omgedraai en die voertuig gevolg terwyl hy hulp ontbied het. Die rowers het gesien hy is agter hulle aan en het by ‘n plantasiepaadjie ingejaag. Sowat 400 m die bos in het hulle stilgehou en te voet gevlug.

Intussen het AG Solutions en Bossies Community Justice se Albert Gryvenstein by die toneel opgedaag. “Die misdaadtoneel is beveilig terwyl daar vir die forensiese deskundiges gewag is.”

‘n Bybel in ‘n leeromslag en ‘n paar pakkies gevriesde vleis op die agtersitplek van die Volkswagen City Golf was die stille getuienes van die drama wat hom vroeër afgespeel het.

Die polisie het Vrydag ‘n deurbraak gemaak toe hulle drie verdagtes in Clau-Clau vir ‘n mislukte transitorooftog in hegtenis geneem het. Dié rooftog het op 28 Junie in KaNyamazane plaasgevind. Daar is toe vasgestel dat die drie moontlik ook by die plaasaanval betrokke was. Van Smith se goedere is by die verdagtes gekry.

Alex Phoku (32), lwazi Mabunda (35) en Thulani Nkosi (24) het Maandag vlugtig in die hof in KaBokweni verskyn. Die saak is tot 16 Julie vir verdere ondersoek uitgestel.

Opvolg:

Smith sê sy is op Vrydag 12 Julie na die polisiekantoor ontbied waar sy ’n uitkenningsparade moes bywoon. Sy het twee van die vermeende rowers uitgeken.

Die polisie het ook haar een skootrekenaar en drie van die gesteelde vuurwapens, ’n 9 mm- Barretta-pistool, ’n 9 mm- Parabellum-pistool en die .22-geweer uitgewys. Die wapens word vir ballistiese toetse gestuur om vas te stel of dit in ander rooftogte gebruik is.

“Dit sal dan aan my teruggegee word,” sê Smith.

“My besonderse 22 kar. mes-en-vurkstel is steeds weg! Maar ek is dankbaar dat ek my Bybel kon terugkry. En die gevriesde vleis!”

 

Back to top button