Local news

Leon is eintlik my kombuisradio, sê Mbombela se eie kosprinses

Corli Prinsloo en Leon Gropp was ’n groot wenresep tydens die Innibos Kunstefees en het vol sale by die Fleur de Lis-venue by Hoërskool Nelspruit getrek. En was dít nou nie kostelik nie!

Mbombela se eie kosprinses en aanbieder van die ontbytSAKE-program op kykNET, Corli Prinsloo, het tydens Innibos laggend vertel dat Leon Gropp (wat haar kombuisvernuftigheid met sy kitaar aanvul) eintlik maar nes ’n kombuisradio is.

“Sy kan my ongelukkig net nie afskakel nie,” brom Leon oor sy medeaanbieder van KOStelik, wat dié jaar ook sy debuut as leefstylteater by die Innibos-fees maak.

“Hy is eintlik die een wat die ‘-telik’ in die KOStelik is, want hy maak maar sulke flou grappies gedurende die kokery,” terg Corli. “Dit is eintlik nie vreeslik snaaks nie, maar ek moet daarvoor lag.”

LEES OOK: IN FOTO’S: ‘n Wenresep wat smaak na sukses by Innibos 2024

Alle grappies op ’n stokkie – dié produksie is een van die lekkerste disse op die feeskalender, want gehore kan nie net sien hoe word die viergangmaaltyd voorberei nie, hulle kan ook elkeen ’n bythappie proe. “Elke gehoorlid ontvang ook so ’n resepteboekie waarin die resep is,” vertel Corli tussendeur die geskarrel met die voorbereiding van hul eerste vertoning.

@lowvelder

Corli Prinsloo en Leon Gropp (beide van OntbytSAKE-faam) gaan die gehoor om 12:00 op ‘n kragtoer neem met ‘n pittige vertoning van kos, komedie en kuns tydens hulle produksie, KOStelik, by Fleur de Lis by Hoërskool Nelspruit. #Innibos2024 #ontbytsake #corliprinsloo #leongropp #kostelik #artistsoftiktok

♬ original sound – Lowveld Media

Leon, wat ook ’n aanbieder op ontbytSAKE is, staan reg langs Corli en terwyl sy die een dis na die ander verduidelik, sing hy liedjies wat temas van kos en feesmaal aanraak. “Ek kan glad nie self kos maak nie, dus sal ek nóóit by Corli se kospotte inmeng nie!”

LEES OOK: Laevelder Boma-kuierteater kook behoorlik oor tydens Innibos

Die Fleur de Lis-teater op die gronde van Hoërskool Nelspruit is omskep in ’n meestersjefkombuis. Corli se kombuiskatoetertjies is alles rooi.

“Ek maak tot my lippe rooi,” lag sy. Corli, wat in 2016 die kookrealiteitsprogram Kokkedoor gewen het, het in Mbombela grootgeword en dié hoërskool se kombuis is ook die plek waar sy haar heel eerste pampoentertjie gebak het.

“By dáái einste tafel,” beduie sy, “het ek 30 jaar gelede gebak en gebrou. Ek het toe huishoudkunde as ’n vak gehad, maar het nooit gedink dat ek ooit ’n professionele sjef sou word nie. Nie dat ek eintlik ’n professionele sjef is nie, want ek het toe nooit gasvryheidstudies studeer nie. Alles wat ek van kos weet, het ek myself geleer.”

In die kombuis is sowat ses van die skool se leerders besig om van Corli se snoepies aanmekaar te sit. Juf. Erna Janse van Rensburg hou ’n wakende ogie oor die aspirantkokke. “Dit is lekker om handlangers in die kombuis te hê en op die manier word die leerders ook by die fees betrek.”

Corli wil nou nie al haar disse weggee nie, maar ons kan maar noem dat alternatief anders is, en dat enigiemand wat ’n stoof kan aansit dié disse sal kan maak.

You can read the full story on our App. Download it here.

Bertus de Bruyn

Bertus de Bruyn is based in Mbombela, Mpumalanga. De bruyn have been employed by Caxton since 2009. After a short sebatical of two years, De Bruyn is back at the place he called home, Caxton, at Lowveld Media. He is currently the digital content manager, but has 14 years of journalism skills, news editor, and acting editors duties behind his name.
Back to top button