Local news

Onderonsie in Mbombela-kroeg lei tot klagtes van aanranding

Johan Fick se vuiste het hom onlangs wéér in die moeilikheid laat beland, en dit skaars drie weke na hy gesê het dat hy nooit weer in 'n Mbombela-kroeg gaan kuier nie.

Skaars drie weke nadat hy plegtig onderneem het om nooit weer by enige kroeg in Mbombela te gaan kuier nie, het Johan Fick homself na bewering weer in die moeilikheid in geklap.

Fick se vuisgeveg met ‘n vriend van hom, Chris Richter, is onlangs in Laevelder gepubliseer, en het ongekende opslae gemaak.

Dié keer was sy beweerde slagoffer Brenda Lubisi, ‘n kelnerin wat by die bekende kuierkroeg The Vintage Lapa Pub werk.

LEES OOK: Kroeë verban Mbombela-man met vinnige vuiste

Fick het glo gedurende dié drinksessie op Stemdag, Woensdag 29 Mei saam met ‘n vriend by dié kroeg in ‘n onderonsie met Lubisi betrokke geraak, waarna hy haar na bewering geklap het en die k-woord toegesnou het.

Volgens Lubisi het die kroeg om middernag gesluit, maar hulle bly aan diens tot 02:00 om die perseel skoon te maak en voorraad aan te vul. Sy sê Fick en sy vriend het tot omstreeks 01:45 verlede Donderdag 30 Mei steeds in die kroeg gesit.

Sy het glo in ‘n stadium vir hom gevra om sy rekening te vereffen omdat hulle die perseel sou sluit.

“Hy wou sy karsleutels hê, maar ek het vir hom gesê hy moet eers sy rekening vereffen. Dit is ons beleid dat indien iemand ‘n tab oopmaak, hulle hul motorsleutels by ons moet inhandig,” sê sy.

“Hy het op my begin skree en my deur die gesig geklap. Hy het ook vir my gesê ek is ‘n k*****,” beweer sy. Haar kollega, die kroegman by die Lapa, ene Lebo, het glo op Fick afgestorm en hom met die vuiste bygedam.

Fick het glo om verskoning gevra oor sy gedrag en gesê hy wil sy beursie in sy motor gaan haal.

“Dit is toe dat hy en twee ander mans, waarvan een in ‘n polisieuniform geklee was, daar opgedaag het.”

Hulle wou glo weet waarom Fick aangerand is.

“Ek het vir hom vertel wat gebeur het. Hy het Fick toe van die perseel af verwyder. Selfs terwyl sy vriend met ons gepraat het, het Fick steeds beledigende aanmerkings teenoor ons gemaak.”

Fick het later die oggend ‘n klag van aanranding by die polisie aanhangig gemaak. Hier het hy beweer dat hy die oggend omstreeks 08:00 by die kroeg aangerand is.

Lubisi sê sy het in ‘n stadium ‘n oproep van iemand ontvang wat gesê het sy moet saam met hom na ‘n prokureur gaan om die saak te skik. Sy is toe glo saam met hom daarheen, en is ingelig dat Fick met die aanrandingsklag wil voortgaan.

Lubisi het toe ‘n klag van aanranding teen Fick gemaak. In haar verklaring bevestig sy dat die voorval omstreeks 02:00 plaasgevind het.

Rudi Schoeman, die Lapa se eienaar, het die voorval bevestig. Hy het ook ontken dat die voorval eers 08:00 die oggend plaasgevind het.

Fick het by monde van Pietman Lourens, sy prokureur, gesê hulle wil in hierdie stadium geen kommentaar lewer nie.

Back to top button