Local news

OPVOLG: Witrivier-seun in intensief ná skietvoorval

'n Negejarige seun lê in 'n stabiele toestand in die hospitaal nadat hy deur die kop geskiet is. 'n Reusesoektog is van stapel gestuur om die skieter op te spoor.

Terwyl ‘n negejarige seun van Witrivier gehospitaliseer is nadat hy deur die kop geskiet is, hang daar kwelvrae oor wat van die skieter geword het.

‘n Leerder aan Laerskool Witrivier is Woensdagoggend omstreeks 11:00 in sy ouerhuis geskiet. Volgens inligting was die seun en sy twee boeties alleen by die huis.

Brig. Selvy Mohlala, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, sê volgens die seuns het hulle ‘n lawaai buite die huis gehoor. Die ouer seuns is na buite, en toe hoor hulle ‘n skoot klap.

Lees ook: White River boy shot in house robbery

Volgens ingeligte bronne wat op die toneel was, is die seun aangetref waar hy in ‘n plas bloed met ‘n skietwond deur sy kop op die badkamervloer gelê het.

Sy pa het glo kort na die skietery by die huis opgedaag, sy seun van die vloer af opgetel en hom in een van die kamers op die bed neergelê.

Hier het paramedici van die Securicon Ambulansdiens en ER24 hom behandel. Twee klein gaatjies in sy kop dui daarop dat die projektiel hom in die voorkop getref het en agter by die skedel uit is.

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat hy op ‘n kort afstand geskiet is. Tydens die ondersoek op die toneel het die polisie op ‘n projektiel afgekom. Hulle het bevestig dat dit ‘n 9mm-patroon was.

Die seun is na Mediclinic Nelspruit oorgeplaas waar hy ‘n noodoperasie ondergaan het.

Dawie Bronkhorst, voorsitter van die GPF in Witrivier, sê hulle het onmiddellik ‘n noodplan uitgerol om na die verdagte te soek.

“Volgens inligting is die verdagte in ‘n swart hemp en broek geklee. Hy het vermoedelik in die rigting van die Sabie-pad gevlug. Al die sekuriteitsmaatskappye op die dorp het ingespring en gehelp soek. Daar was in ‘n stadium nagenoeg 40 voertuie wat die paaie gepatrolleer het.”

Bronkhorst sê selfs hommeltuie is in die soektog ontplooi.

“Ons is ook besig om videomateriaal van sekuriteitskameras te ontleed om ‘n verdagte te identifiseer. Al die inligting is aan die polisie verskaf,” sê hy.

Liza Bahari, ‘n woordvoerder van Mediclinic, sê hy word in die intensiewesorgeenheid behandel en dat sy toestand stabiel is.

Sy ma wou in hierdie stadium nie met Laevelder praat nie.

Back to top button