Local newsNews

Familie vind vrede nadat Ayden van Lydenburg se lyding verby is

Baba Ayden se verhaal het sedert 2021 die land se harte aangegryp.

Die driejarige peuter, Ayden van Niekerk, het sy stryd teen serebrale verlamming verloor, en ‘n tekort aan suurstof ondervind kort voor sy dood.

Hy is omstreeks 20:20 op 13 November oorlede nadat sy ma gesien het die asemhalingsmasjien verskaf nie meer die aanbevole dosis wat hy benodig het nie.

Weens ‘n asemnood is hy op 10 Mei 2021 per helikopter na die Netcare Garden City Hospitaal vervoer vanaf Lydenburg. Ayden was toe sewe maande oud.

Lees ook: Borgtog vir vermoorde Megan Griesel geweier

Ayden van Niekerk op sy eerste verjaardag saam met sy ma Estelle Nortje. Foto: Michelle Boshoff

Spesialiste het toe reeds die gerugte hokgeslaan dat hy verstik het. ‘n Mediese geval wat sy brein verlam het, het tot suurstoftekort en iskemiese enkelfalopatie gelei.

Die spesialiste by die Wits Donald Gordon Medical Centre het in Augustus 2022 vir sy ma, Estelle Nortjé, ingelig dat vloeistof Ayden se buik en lewer vul en dat dit is wat sy asemnood versoorsaak. Die spesialiste het die familie aangeraai om Ayden gemaklik te hou.

“Ons het hom na die Platinum Health Clinic by The Heads-winkelkompleks geneem. Ek en my familie het reeds ‘n geruime tyd gelede besluit wanneer Ayden weer in ‘n koma ingaan, ons hom aan Jesus sal opdra. Daar was niks wat die dokters meer vir hom kon doen nie. Baie dankie aan hierdie personeel,” het sy gesê.
Vir hierdie familie van The Boulders was die laaste 30 maande ‘n opdraande stryd. Nortjé hou egter vol: “Ayden het uiteindelik engelvlerkies gekry.

Lees ook: Baba Ayden se naastes vier sy eerste verjaardag

“Dankie aan die land wat van dag een af vir ons gebid het. My ouers, Andries en Elize van Niekerk, asook my susters, Nadine en Maryna van Niekerk. Deur hierdie moeilike tyd het Sarel Nortjé my en Ayden se lewe verryk. Ek en Sarel is in Augustus 2022 getroud. Ek sal altyd dankbaar wees dat Sarel vir Ayden soos ‘n pa was en ons deur elke moeilike oomblik ondersteun het,” het Estelle gesê.

‘n Roudiens vir Ayden vind op 18 November om 15:00 by die Impangele Inn plaas, sowat 5 km buite Lydenburg op die Ohrigstadpad.

Ayden van Niekerk. Foto: Verskaf/Estelle Nortje.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button