Sport

Pumas wen tweede ronde katgeveg in Potch

Die Pumas speel op Saterdag 18 November hulle laaste ronde wedstryd teen die NovaVit Griffons.

Die Airlinkbeker se rugbyaksie het van Welkom na Potchefstroom verskuif vir die tweede ronde wedstryde wat op 11 November gespeel is.

Hier het die Airlink Pumas die Luiperds voor ‘n tuisskare op Oliënpark aangevat.

Die manne in pienk het deur die loop van die volle 80 minute voor op die telbord geloop, en alhoewel sake in die eerste helfte van die kragmeting maar redelik gelyk was, het die Pumas die kraantjies oopgedraai om met ‘n gesonde voorsprong van 56 punte teenoor 20 die wedstryd te beklink.

LEES OOK: WATCH: Brazen robbers hit White River jewellery store

Die Luiperds kon nie daarin slaag om enige punte in die tweede helfte aan te teken nie.

“Die wind was ook ‘n groot faktor in hierdie wedstryd, dieselfde as in ronde 1 teen die Griekwas, maar ons foute was hierdie keer minder en die ouens het goed afgerond,” vertel die hoofbreier van die Pumas, Jimmy Stonehouse.

Alhoewel hy tevrede is met sy span se tweedehelftevertoning, meen hy dat ‘n paar foute op verdediging in die eerste 40 minute die Luiperds toegelaat het om punte op die bord te voeg.

LEES OOK: More fuel price relief on the horizon

Daar was Saterdag ook ‘n hele paar oud-Luiperdspelers en studente in die Pumas-span wat vir oulaas op hulle tuisveld gespeel het.

Stonehouse vertel dat hy reken dit vir die nuwelinge lekker was om terug op die veld te wees waar hulle hul rugbyloopbane afgeskop het.

Hierdie afgelope week is die Pumas hard aan die skaaf en skuur ter voorbereiding vir hulle laaste ronde wedstryd teen die NovaVit Griffons op 18 November.

“Die Griffons is ‘n goeie span. Hulle kan jou enigetyd onder druk sit en klop,” sê Stonehouse oor die komende naweek se wedstryd. “Dis ‘n wedstryd waarin balbesit baie belangrik gaan wees. Ons gaan ook moet seker maak ons wen ons vaste fasette en is goed op verdediging.”

Pumas-ondersteuners kan die wedstryd op die Pumas se YouTube-kanaal stroom.

Back to top button