Local newsNews

Tragiese skietdood van 20-jarige laat Lydenburg-gemeenskap in skok

’n Pa was eerste op die toneel waar sy dogter doodgeskiet is toe haar Toyota Hilux 27 keer deur die kruisvuur van twee rooftogte getref is.

’n Lydenburg-gesin rou oor die onsinnige dood van die pragtige Megan Griesel (20).

Sy is op 21 Oktober by The Heads-winkelkompleks doodgeskiet deur ‘n bende rowers, terwyl haar pa reeds die skote van hul huis af kon hoor.

Stephan Griesel het op om 00:39 vir die laaste keer met sy dogter gepraat. Teen 00:42 kon hy haar nie in die hande kry nie.
Megan Griesel (20) het in daardie drie minute niksvermoedend in die middel van twee rooftogte deurgery, en ‘n bende verdagtes het haar pa se Toyota Hilux, waarmee sy gery het, na bewering 27 keer raakgeskiet.

VIDEO: Krokodille verorber bok in Krokodilrivier by Marlothpark

Stephan en sy gesin bly by Sterkspruit Falcon Estates. Dit is ‘n klipgooi van The Heads-winkelkompleks af. Megan het in Voortrekkerstraat in die rigting van die Longtompas gery, en was besig om links om die verkeersirkel na die woonkompleks te draai.

Die toneel met die koeëldoppiemerkers.

Die verdagtes het verskeie skote deur die Toyota Hilux se voorruit geskiet en ook deur die bestuurder se ruit.

Volgens kol. Donald Mdhluli, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, was ‘n roofbende op daardie stadium tussen die Lydenburg Convenience Engen Garage en Guest Garage doenig. Op ‘n sekuriteitsvideo kan ‘n mens sien hoe 10 verdagtes by Engen van ‘n wit Isuzu-enkelkajuitbakkie af spring. Daar het hulle die geldkluis oopgeblaas en kosvoorraad gebuit. Die bedrag geld wat hulle gesteel het, is nog nie bekendgemaak nie.

Die verdagtes is daarna sowat 200 m verder na die Guest Garage, oorkant die pad, waar hulle die kassiere met vuurwapens aangehou het.
Volgens ooggetuies en die polisie is dit toe dat die verdagtes op Megan se Hilux begin skiet het.

Mdhluli het gesê dis moontlik dat die verdagtes haar voertuig met dié van ‘n sekuriteitsfirma verwar het.

Arno, Mathilda, Megan en Stephan Griesel. Foto’s: Verskaf/Stephan Griesel

“Sy het pas gery vanaf ‘n restaurant op die dorp, en ek het oor die foon vir haar gesê ek wag vir haar by die motorhuis. Toe ek die skote hoor, wat soos ‘n oorlog geklink het, het ek haar teruggebel, maar sy het nie geantwoord nie. Ek het aanhou bel en in ‘n ander voertuig gespring om na haar te gaan soek. Ek was eerste op die toneel, en sy was nog in die kar,” het Stephan gesê.

Die verdagtes het ook Checkers Liquor in The Heads beroof en etlike kiste drank gebuit.

“Die polisieondersoek is steeds hangend, en in watter stadium van die rooftogte Megan geskiet is, sal nog bepaal word. Die familie sal meer klaarheid ontvang ná die uitslag van die nadoodse ondersoek voltooi is. Ek en Mohammed Cassim, die eienaar van Engen, het haar uit die voertuig getel en na ‘n 24-uur kliniek by The Heads geneem. Daar was niks wat hulle meer vir haar kon doen nie. Netcare 911 was kort daarna op die toneel en het my probeer bemoedig deur te sê sy is op slag dood. Sun Security was aktief op die toneel, dankie aan hulle. Ons as ouers, Stephan en Mathilda, asook Megan se broer, Arno, bedank Laerskool Lydenburg se personeel vir hul bystand, Checkers The Heads, Egbert Hiemstra, Daniël Coetzer en Mohammed Cassim. Ons het soveel ondersteuning,” het haar pa gesê.

Megan het in 2021 aan Hoërskool Lydenburg gematrikuleer.

“Wat ons die meeste van Megan gaan mis, is die ligstraal wat sy in ons gesin was. Sy het liefde uitgestraal en sy het ander mense se behoeftes altyd voor haar eie geplaas. Sy was ons prinses, ons engel en haar broer se beste vriendin. Haar vriend, Stephanus Grobler (21), was baie lief vir Megan en hulle het mekaar gerespekteer. Hulle was baie lank in ‘n verhouding. Hy is steeds deel van ons familie en ons is lief vir hom. Ons bid haar dood sal ‘n groter bewustheid oor misdaad kweek. Maar Megan se nalatenskap moet meer positief benader word as die manier waarop sy gesterf het. Ons gaan nie ‘n wrok koester nie, want dit is nie wat sy sou wou gehad het nie. Die boodskappies van vriende en familie maak ons trots op die impak wat Megan op soveel mense in haar kort leeftyd gehad het,” het haar pa gesê.

‘n Lewensviering vind op 29 Oktober om 11:30 by die NG Lydenburg-Suid plaas.

Sers. Cave Dilebo, woordvoerder van die Lydenburg-polisie, het gesê alle leidrade word opgevolg. Geen inhegtenisnames is tot dusver gemaak nie, en die saak word tans ondersoek.

Die toneel met die koeëldoppiemerkers.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button