Local news

Krugerwildtuintroue: ‘n Ware ervaring

"Ons sal dit enige dag vir enige ander bruid en bruidegom aanbeveel," vertel bosbruid Luzaan Coetzer. Sy en haar man, Brandon, het onlangs op die walle van die Sabierivier in die Nasionale Krugerwildtuin getrou.

Ja, daar het dalk al vantevore ‘n paar troues in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) plaasgevind, maar dit was óf in ‘n toe kamp, óf op ‘n private eiendom aangrensend aan dié gewilde toeristebestemming.

Maar ‘n troue sommer net daar op die walle van die Sabierivier, sonder enige versperring van ‘n aard tussen mens en dier in sy natuurlike habitat? Van dié soort Kruger-troues word daar nie sommer gehoor nie.

Dit is egter presies die tipe bostroue waaroor Luzaan Coetzer, ‘n natuurlewefotograaf van Tzaneen, gedroom het. “Ons sou oorspronklik ‘n tradisionele troue gehad het, maar het toe besluit dat ‘n groot troue nie eintlik ons ding is nie,” sê sy.

LEES OOK: Mbombela reaction officer allegedly kills wife’s suspected boyfriend, then himself

Dit was aanvanklik haar verloofde, Brandon, se idee om te kyk of daar nie dalk die moontlikheid is dat hulle in die wildtuin kan trou nie. “Die wildtuin was nog altyd die één plek waarna ons gaan om net ‘n bietjie van die mensdom af weg te kom. Dis waar ons rus en vrede vind. Om in die bos te trou was nog altyd ‘n droom, maar om in die wildtuin self te trou was iets wat ons gedink het nie moontlik is nie.”

Die oomblik toe die paartjie laat weet is dat hul droombostroue ‘n realiteit gaan word, was dit vir seker een van die beste oomblikke in hul lewens.

Daar was net ’n handjievol gaste by dié intieme troue in die bos.

Dié intieme geleentheid is sowat 2 km buite die Onder Sabie-kamp op ‘n rots langs die Sabierivier gehou. Op dié dag is Luzaan en Brandon deur slegs hul familielede en naaste vriende omring. “Daar was 24 gaste, wat perfek uitgewerk het,” sê Luzaan.

Een van die benoude oomblikke van die beplanningsfase was om seker te maak al die gaste het ‘n bed om in te slaap. Onder Sabie is een van die besigste kampe in die wildtuin, dus, toe hulle drie maande voor die groot dag op die kop 24 slaapplekke kon kry, moes hulle dit daar en dan bespreek.

LEES OOK: Trial date set for man charged with culpable homicide of Mbombela Hawks officer

Buiten familie en vriende is die troue ook deur ‘n groepie veldwagters bygewoon, wat vanaf een van die hoër klippe ‘n wakende oog gehou het terwyl die seremonie plaasgevind het.

“Toe ons die oggend van die troue by Onder Sabie aankom, het die personeel ons ingelig dat hulle vroeër die oggend leeus naby die kamp teëgekom het, maar dié het gelukkig nie lank gebly nie. Ek moet sê die leeus en die natuur het mooi saamgespeel,” lag Luzaan en voeg by dat sy wel nie sou omgee vir so ‘n bietjie pret nie.

Daar het wel so ‘n paar olifante kom groet terwyl die pasgetroudes besig was om foto’s te laat neem.

Luzaan vertel dat hulle hele idee was om dinge so natuurlik as moontlik te hou. “Ons wou nie ingaan en die bos uit die bos uithaal nie. Dit is nog steeds die wildtuin.”

Nadat al die trouverrigtinge verby was, is die hele geselskap op ‘n uur lange wildbesigtigingsrit geneem.

Luzaan sê dat beide sy en Brandon oor niks wat hulle spesiale dag betref is, spyt is nie. “Ons sal dit enige dag vir enige ander bruid en bruidegom aanbeveel.”

Haar raad aan toekomstige bruide is om te trou waar jy wil! “‘n Mens trou net een keer.”

LEES OOK: Additional suspect in Malelane cash-in-transit heist to apply for bail

Volgens Isaac Phaahla, die kommunikasie- en bemarkingsbestuurder van die NKW, is dit nie die eerste keer dat ‘n troue soos hierdie een gehou is nie. Hy sê dat hulle beslis nog sulke funksies in die toekoms sal hou, met streng protokol en reëls wat gehoorsaam moet word.

“Ons het aangewese gebiede wat geïdentifiseer is om sulke geleenthede aan te bied, sonder om die bosatmosfeer te benadeel en biodiversiteit negatief te beïnvloed.”

Om sommer so sonder enige versperrings in die natuur, net mens en dier, trou aan mekaar te beloof, is voorwaar ‘n ervaring soos min.

Back to top button