Local news

Waardevolle gesprekke by Innibos Boekenaweek

Die Innibos Boekenaweek is beslis 'n welkome toevoeging tot enige leser se kalender. Lees meer hier oor hoe dié naweek op Kaapsehoop afgespeel het en watter skrywers daar ’n draai gaan maak het.

‘n Lesersparadys; dit was Kaapsehoop vanaf 1 tot 3 September.

Die Innibos Boekenaweek het tydens daardie naweek vir boekliefhebbers die kans gegun om die skrywers agter van hul gunstelingwoorde te ontmoet. Gesprekke is gevoer wat lesers meer van die skrywer laat verstaan het, en ook was die geleentheid daar om van daardie brandende vrae te vra.

Dana Snyman en Stefaans Coetzee het die naweek afgeskop en afgesluit. Vrydag het Coetzee met Snyman oor Die binneland in gesels, en Sondagoggend andersom, toe Snyman op sy beurt met Coetzee oor sy boek Onbeskryflike genade gepraat het.

Stefaans Coetzee en Dana Snyman.

Susan Booyens het Johann Rossouw se boek Sluitstuk met haar indringende vrae verhelder, hoewel die Vrystaatse filosoof dit gesystap het om homself in fyn besonderhede uit te laat oor sy vriendskap en mentorskap met wyle Karel Schoeman.

Die vraag of ‘n skrywer hom die lewe van ‘n ander werklike mens kan verbeel, is een van dié wat geopper is.

LEES OOK: ‘Rhino Man’ brings Lowveld rangers’ daily battle to the world

Tony Park, die Australiese skrywer wat na sowat 25 jaar as ‘n Laevelder beskou word, het ‘n baie vermaaklike en ligte blik op die skrywersamp gewerp, en wat presies daartoe gelei het dat hy sy hart in Afrika verloor het, asook waarom hy dit verkies om, met die spanningsroman as medium, aktuele kwessies aan te spreek. Vendetta, sy nuutste boek, gebruik juis die Bosoorlog van merendeels die 1980’s as agtergrond.

Die Vrydagaand is afgesluit met FilosofieKafee met Charl-Pierre Naudé. Prof. Mariana Kruger was in gesprek met Naudé, ‘n bekende digter, skrywer, resensent en filosoof, oor die kunstenaar en die skrywer se verhouding met die gode. Dit was ‘n oor-en-weer-bespreking oor die ooreenkomste tussen gode en kunstenaars/skrywers, hul eienskappe, die dinge waarna hulle streef en ook hoe mense hulle dikwels ophemel.

FilosofieKafee, wat sy ontstaan in Pretoria se bekende Café Riche op die Kerkplein onder die leiding van Lamé Ebersöhn gehad het, vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar.

LEES OOK: Laeveldse tiener en haar fiets maak naam vir hulself

Saterdagoggend het op ‘n redelike gewigtige noot begin met ‘n gesprek tussen Susan Booyens en die joernalis en skrywer, Deon Lampbrecht, oor sy bydrae in die boek Diensplig – waarom stotter ons pa’s so (saamgestel deur Anelia Heese). Die verpligte weermagdiens van destyds is ‘n teer punt wat dekades later steeds uitkring, ook vir die families van destydse dienspligtiges.

Op dieselfde dag was dit ook die Kaapsehoopse skrywer Alita Steenkamp se beurt op die ‘verhoog’. Haar eerste jeugverhaal, Deur die vuur, onderstreep haar veelsydigheid om uiteenlopende onderwerpe boeiend aan te bied. Sy is die skrywer van biografieë van onder andere Hestrie Cloete, Wynie Strydom, Mathys Roets en Stefaans Coetzee, en natuurlik ook ‘n gesoute vryskutjoernalis wat al in talle tydskrifte gepubliseer het. Sy het verklap dat kinderrympies deesdae haar ink laat kook, nadat iemand haar daarop gewys het hoe min sinvolle kinderryme met ‘n meer moderne aanslag daar is.

Praatdigkuns is deur Menzi Mkhonza aangebied. Hy is deel van die Laeveldse groep digters, Words in My Mouth. Hy het hier van sy eie gedigte aangebied.

Hierna het ‘n lekker kopkrapper gevolg. Booyens het dié afdeling van die program gelei, en as joernalis en wenner van die meeste prysgeld nóg op Wie word ‘n miljoenêr?, het sy deelnemers met tye behoorlik laat bontstaan vir antwoorde tydens die Lit-vasvra.

Hiérna kon jy verdwyn in Carina Stander se verduidelikings van die prosesse agter haar Bergengel-trilogie, haar ontvlugting deur kuns, en haar onstuimige verhouding met die digkuns. Sy het nuwe wêrelde geskep in BergengelWonderwese en Die Waterplek: Afrika (deel 1) wat selde voorheen in Afrikaans gedoen is.

LEES OOK: Swendelaar blyk weer bedrywig in die Laeveld te wees

Hertzogpryswenner SJ Naudé het met Annemarie van der Walt oor Van vaders en vlugtelinge, sy vierde gepubliseerde werk gesels. Die verskillende vorme en ook tekortkominge in vaderskap het onder die loep gekom, terwyl Naudé ook meer vertel het van die aanslag waarmee hy die skryf van die boek aangepak het.

Johan Myburg, Hertzogpryswenner vir sy digbundel Narreskip in 2020, en Tom Dreyer as debuutdigter met Nou in infrarooi, het mekaar in ‘n digtergesprek van naderby leer ken. Hoewel dit die twee digters se eerste ontmoeting was, was daar ‘n heerlike woord en wederwoord, sowel as voorlesings van hul onderskeie gedigte. Die gehoor is meegesleur, en die spontane applous was ‘n pluimpie vir die digters.

Gert Vlok Nel, wat geen vreemdeling in die Laeveld is nie, se vertoning is ingelei deur Lieke Joosen, ‘n Nederlandse sangeres wat ‘n onhutsende mooi weergawe van die tradisionele Afrikaanse lied “‘n Handvol gruis uit die Hantam” gelewer het. Dit was die hoogtepunt van die aandvertoning.

Snyman en Coetzee se afsluiting van die naweek met hulle Sondag-gesprek oor Onbeskryflike genade was gevul met rou emosie wat na die gehoor toe oorgespoel het. Dit was die behoefte van ‘n veroordeelde man wat net wil pa wees, net sy naam wil wees, sonder die konnotasie na sy verlede. Ten spyte van daardie behoefte, staan hy op vir wat reg is en staan hy pa vir dit wat hy gedoen het en nié gedoen het nie.

Back to top button