Local news

Swendelaar blyk weer bedrywig in die Laeveld te wees

Laevelder het in 2021 ‘n omvattende berig oor die Larissa Maritz en Juan Viljoen se misdaadveldtogte gedoen. Mike Bolhuis meen dié twee is so glibberig soos palings en maan Laevelders om op die uitkyk vir hulle streke te wees.

Hulle is terug in een van hul vele misdaadneste.

Dit is hoe Mike Bolhuis, ‘n privaat speurder en die hoof van Specialised Security Services (SSS) ‘n veroordeelde bedrieër, Larissa Maritz (32), en haar meeloper, Juan Viljoen, vandeesweek beskryf het.

“Hulle is so glibberig soos palings, en daar word al sedert 2020 na die twee gesoek in verband met bedrog, diefstal en swendelary.”

In 2021 het Laevelder ‘n omvattende berig oor die twee se misdaadveldtog gedoen. Destyds het hulle verskeie gastehuise en inwoners van Marlothpark verneuk.

Haar gunstelingswendelveld is Facebook, en dit is hier waar sy met haar gladde mond verskeie mense in ‘n web van bedrog ingesleep het.

LEES OOK: Hard boxing and sportsmanship unite in Mbombela

Bolhuis sê die twee het, sover hulle kan vasstel, geen vaste adres nie. “Hulle sal op een dorp op slagoffers toeslaan, hul geldtrommel volmaak, en dan verdwyn. En so glip hulle dan van die een ‘misdaadnessie’ na die volgende. Volgens alle aanduidings en inligting wat ons die laaste tyd bekom het, bevind die twee hulle tans weer iewers in die Laeveld.”

Bolhuis waarsku ook mense wat hulle eiendom wil verhuur, om eers deeglike navraag oor die huurder te doen.

“Hulle sal ‘n huis huur, maar nooit die huur betaal nie. Indien die eienaar dan stappe teen hulle wil neem, raak hulle aggressief en rig hulle soveel skade moontlik aan die huis en eiendom aan, en verdwyn.”

 LEES OOK: Mpumalanga swimmers make a splash at interprovincial competition at Curro

Die twee se modus operandi is om verblyf in gastehuise in die Laeveld te verhuur en dan met die geld te verdwyn. Die slagoffers ontdek eers later hulle is ingeloop, wanneer hulle die verblyf waarvoor hulle betaal het, wil betree.

In 2021 is Maritz in die Laeveld in hegtenis geneem, skuldig bevind en beboet. Sy is ook vroeër in Gauteng vir die diefstal van ‘n sleepwa skuldig bevind, en met R3 000 beboet.

Bolhuis sê Maritz se misdaadrekord skrik haar geensins af nie, en dit blyk nie sy staak haar swendelbedrywighede nie. “Sy is niks anders as ‘n gewoonte-misdadiger wat sonder beswaar of gewete optree. Sy hoort agter tralies,” sê hy.

 LEES OOK: Dream win for Pepler at the Gary and Vivienne Player Challenge

Hy het Laevelders gewaarsku om bedag te wees op haar swendelary. “Maak altyd dubbeld seker die transaksie is eg. Moenie net betaal nie. Doen jou huiswerk behoorlik.” Met die gemak van sosiale media, is dit net ‘n paar kubersoektogte ver om vas te stel alles is in orde.

“Dit is maar die ou geykte cliché; as ‘n ding té goed klink om waar te wees, dan is dit waarskynlik so. Sy het geen ontsag vir die wet, reg of geregtigheid wanneer sy deur slagoffers gekonfronteer word nie, en raak aggressief en intimiderend.”

Daar is tans sake hangende teen haar en Viljoen in Margate, Port Edward, Middelburg, Vanderbijlpark, Bellair, Potchefstroom, Honeydew en Kriel.

Bolhuis sê sy bedryf haar swendelstreke hoofsaaklik op sosiale media, waar sy verskeie profiele het. Van die skuilname wat sy gereeld gebruik is Son Divan Rust, Melancholy, Michalene Pretorius, Mariska Maritz, Jenny Pretorius, Vanessa Opperman, Jean-Pierre Pretorius, Sam Knocker, Liehanke Bekker en Jeandray du Plessis.

Indien enigiemand inligting oor haar of haar meeloper het, kontak die naaste polisiekantoor of die SSS-ondersoekers, Jan Roos by 079 997 1132, of Jacques Visser by 027 67 946 0812.

Larissa Maritz. > Foto: Facebook

Back to top button