Local news

Plaaslike sportster wil ander inspireer

Juané le Roux is met ’n gebrek gebore, wat haar aan die begin gefrustreer het, maar sy het geleer om nie toe te laat dat dit haar onderkry nie.

Die Laeveld wemel van sportsterre, maar as daar nou een sportvrou is wat verdien om uitgesonder te word, is dit Juané le Roux (16).

Dié ster het die provinsie en land by nasionale en internasionale byeenkomste verteenwoordig.

Sy is ook nou eers in gr. 10, en die atletiekwêreld lê wawyd oop vir haar!

LEES OOK: Erik Vermaak se sagte suiwer siel nou rustig

Anders as wat ander van haar ouderdom sou doen, het Juané nie die afgelope skoolvakansie veel gerus nie. Sy het vanaf 8 tot 17 Julie in die groen en goud by vanjaar se Wêreld-Para-atletiekkampioenskappe in Parys gepronk. Dit is hier waar sy haar eie persoonlike bestes met nóg ‘n paar meters verbeter het. Sy het terselfdertyd ook die Afrika-rekords in beide spiesgooi en gewigstoot laat spat.

Alhoewel Juané nie daarin kon slaag om ‘n plek op die podium in haar gebreksklas (F46) te verseker nie, het haar skittervertonings vir haar onderskeidelik ‘n vyfde (gewigstoot) en 11de (spiesgooi) plek in die wêreld verseker.

Dié tiener se prestasies strek wyd, en haar CV is beslis al langer as die gewone 16-jarige s’n, maar vir Juané het dit ‘n ander betekenis.

LEES OOK: Barberton strikes gold against Witbank Rugby Club

“Die goeie afstande en pryse wat ek gewen het, was als net ‘n bonus. Die standout-oomblikke is om elke keer te sien hoe ek verbeter en te sien wat ek in staat is om te doen,” vertel sy.

Sy sê ook dat dit vir haar spesiaal is om haar passie te kan uitleef saam met ander wat dit ook met haar deel. “Ek is geseënd om die talent wat Liewe Jesus vir my gegee het, te kan gebruik.”

Juané vertel dat dit aan die begin vir haar moeilik was om anders te lyk, en dat haar gebrek haar frustreer het, maar dat dit nou vir haar normaal is. In plaas van tob oor wat sy nie soos ander kon doen nie, het Juané haar eie manier gevind. En haar manier wérk!

LEES OOK: Hou solank dié datum oop!

Sy fokus nou om vir die 2024 Paralimpiese Spele te kwalifiseer, en alhoewel sy besef dat dit harde werk en baie toewyding gaan vat om tot daar te kan kom, is sy meer as bereid om dit in te sit.

“If it doesn’t challenge you, it won’t change you,” is een van haar gunstelinggesegdes.

“My droom is om vir ander ’n voorbeeld te wees, iemand na wie hulle kan opkyk. Om vir ander te wys dat as jy wil, kan jy, en dat alles moontlik is, ongeag jou omstandighede. Als gaan oor hoe graag jy dit wil hê en of jy in jouself glo.”

Juané is beslis ‘n inspirasie vir ieder en elk, en ‘n lewende voorbeeld van Justin Winski se woorde: “Don’t let your circumstances define you. You define your circumstances.”

Back to top button