Local news

Seldsame siekte kniehalter dié Mbombela-vrou nie

Nadat sy heeltemal weens Guillain-Barré-sindroom verlam gelaat is en weer van vooraf moes leer loop, het Nadia Beyleveldt op 15 Julie die SPAR Women's Challenge se 5 km-wedloop van haar emmerlys afgemerk.

Vir ’n ma en kind is daar niks so lekker soos om saam-saam iets te leer nie.

Maar in haar dag des lewens het Nadia Beyleveldt (34) nie gedink sy en Reon (18 maande) sou die afgelope maande saam leer kruip en loop nie!

Binne vier dae nadat sy op 27 Augustus verlede jaar siek begin voel het, het sy van ’n sprankelende en lewenslustige ma in ’n kragtelose, verlamde liggaam verander wat op daardie stadium skaars self kon asemhaal.

LEES OOK: Riverside CID and partners bring joy to needy children

Sy is drie dae later as ’n lyer van die gevreesde Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer. Dit is ’n rare siekte waar die liggaam se immuunstelsel ‘verkeerdelik’ die senuweestelsel aanval.

Die aanloop tot die drama, wat bykans haar lewe verwoes het, of dalk selfs haar dood kon beteken, het Nadia laat Augustus getref toe sy die oggend wakker word en voel haar tande is seer.

Later het sy met hoofpyne begin sukkel.

“Die Sondagoggend is ons kerk toe, maar ek het steeds weird gevoel. Daar was ’n prikkeling in my vingers en tone. Dit was ’n vreemde gevoel, maar ek het gedink dis maar net ’n erge griep wat ek onder lede het.”

Maandagoggend het haar toestand só versleg dat sy dokter toe moes gaan. Bloedtoetse het getoon dat Nadia, ’n haarkapster in die stad, baie verlaagde ystervlakke in haar liggaam gehad het. “Teen Dinsdagoggend was ek so swak dat ek nie eers self kon opstaan nie.”

Sy het aan erge verlamming gely. Haar man, Stefan, en haar skoonpa, Riaan, moes haar tot by die motor help sodat sy die dokter weer kon gaan sien. Woensdag is sy inderhaas na die Pretoria Oos-hospitaal deurgejaag waar sy in die hoësorgeenheid opgeneem is. Teen Donderdag het haar toestand verder versleg, en haar familie is ook ingeroep om vir oulaas met haar te praat voor sy in isolasie geplaas is.

LEES OOK: History repeats itself with second provincial win for Curro Nelspruit’s girls hockey team

“Reon was toe sewe maande oud. En daai Donderdagaand kon ek hom vir die laaste keer borsvoed,” sê Nadia.

Sy het al hoe moeiliker asem gehaal. Die verpleegpersoneel het net bly sê die dokter kom. “’n Skoonmaker wat op daardie stadium in my kamer was, was my reddingsengel. Ek het by haar gepleit sy my moet help, want ek kry nie asem nie. Sy het onder iemand se bas gaan vuurmaak, want binne minute was die dokter daar. Ek is na die intensiewesorgeenheid oorgeplaas, aan ’n ventilator gekoppel en onder sedasie geplaas,” vertel sy.

Vir bykans ses weke was sy onder sedasie. Vroeg in Oktober is sy daarvan gespeen. “Dit was die aakligste en die alleenste tydperk van my lewe. Ek het net daar gelê. Ek kon net my oë en tong beweeg, maar kon nie praat nie. Ek was in my eie liggaam vasgekluister. Ek het na my mense verlang en gesmag om Reon te sien.”

LEES OOK: Missing Barberton man found dead

Sy is later na die Muelmed-hospitaal se rehabilitasiesentrum oorgeplaas. “En skielik, een oggend in November, het ek gevoel ek kon my tone beweeg. Ek was in trane. En toe het ek geweet God het ingegryp. Ek gaan weer loop.”

In daardie stadium is sy ook die eerste keer toegelaat om Reon te sien. “Hulle het hom op my bors neergelê. Dis was wonderlik. En dit was ook vir my die motivering om alles te gee om te herstel. Ek wou weer ’n normale mens wees en ’n normale mamma vir my kind,” vertel sy.

Sy moes van voor af leer om alles te doen. “Om my arms te beweeg, om my eie tande te borsel en om te leer loop. Soos Reon het ek eers geleer kruip. En toe begin loop.”

LEES OOK: Bushbuckridge mayor discusses 2023/24 budget during Soma

Haar rehabilitasie het wondere verrig, en in Februarie hierdie jaar is sy ontslaan en moes sy met ’n loopraam en ’n rolstoel oor die weg kom. “Dit was in hierdie tyd, glo ek, dat Reon onbewustelik ‘ingegryp’ het om my met my herstel te help. As hy gekruip het, kon ek nie vinnig genoeg by hom uitkom nie. So het hy my uit die rolstoel gedwing om eerder die loopraam te gebruik, en toe het ek met krukke begin loop,” sê sy.

Nadia, wat voor haar siekte ’n aktiewe en fikse vrou was en tussen 15 km en 20 km per week gedraf het, se eerste groot deurbraak was toe sy op 23 Maart met krukke en al aan die jaarlikse kleurpretloop deelgeneem het. “Dit was nou wel net een kilometer wat ek gestap het, maar ek was aan die beweeg.”

LEES OOK: Three CIT vans hit in less than a month in Ehlanzeni

Een van haar grootste ondersteuners en motiveerders was haar boesemvriendin, Réandi Walters. Dié twee is sedert gr. 4 vriende. “Kort nadat ek siek geword het, het Réandi vir my gesê ek en sy gaan nog die eerste vyf kilometer van die SPAR Women’s Challenge saam afdraf. En so het ons toe twee weke gelede [15 Julie] dié uitdaging aangedurf.”

“Nadia is merkwaardig. Haar deursettingsvermoë bring goeie hoop vir ander. God is goed!” het Walters dié week aan Laevelder gesê.

> Foto: Charlene Stoltz

 

Back to top button