Local news

Die Witrivier-gemeenskap vier Piet Skead se lewe

Daar sal op 28 Julie hulde aan Piet Skead met ’n feesviering by Pelenechi Manor gebring word.

Die heengaan van Piet Skead het die Witrivier-gemeenskap hard getref.

Sy liggaam is op 10 Julie na ’n 48 uur lange soektoeg in ’n vlei naby die Parkville-vulstasie op dié dorp gevind. Die soektog is op 8 Julie geloods nadat Skead omstreeks 17:30 te voet by sy huis weg is en nie weer teruggekeer het nie.

Na sowat twee weke van rou, verlange en herinneringe deel, is dit tyd vir die gemeenskap om hulde aan Skead se lewe te bring, soos wat hy dit sou wou hê.

LEES OOK: 

Die Skead-familie het met Laevelder gedeel dat hulle 28 Julie sy nalatenskap met musiek, liriek en ’n geselligheid wat skrik vir niks, gaan vier. Die feesvieringe sal om 10:30 vir 11:00 by die Pelenechi Manor plaasvind.

Die hele gemeenskap word uitgenooi om Oom Piet, soos hy bekendgestaan het, te kom onthou.

“As jy ’n brief het om te lees of iets op jou hart het om oor Piet te vertel, doen dit gerus. Hou dit net kort,” lees die uitnodiging. “Dit sal ’n baie gemaklike viering wees, so jy hoef nie jou duurste pak in jou kas te dra nie – dra die klere waarin hy jou geken het.” Die enigste voorwaarde, stel die uitnodiging, is die een uitrusting wat wel nie gedra mag word nie, jou verjaardagpakkie.

As enigiemand iets tot die viering wil bydra, wat Skead sou geniet of van gehou het, is hulle meer as welkom om Tommie Skead by 082 554 6689 te skakel.

Back to top button