Local news

Kuns by Innibos gaan in die Liedjiebos saamsmelt

Innibos se Kuns inni Liedjiebos is beslis nie iets wat jy wil misloop nie.

Die veelsydige musikant, Lizanne Barnard, staan onder meer met die dirigentstokkie van die Laeveld gemeenskapsorkes in die hand, maar tans ‘dirigeer’ sy die vertoning, Kuns inni Liedjiebos vir vanjaar se Innibos Kunstefees.

Kuns inni Liedjiebos omvat ‘n wye verskeidenheid kunsvorme, van woord tot beeldende kuns, musiek en dans. Die wegspringplek was om mense te vra om gedigte in te stuur waaruit Barnard musiek kon maak, maar in ‘n verdere stap is van dié gedigte ook aan beeldende kunstenaars gegee om fisiek gestalte aan daardie digwoorde te gee.

“Jong, ek het eendag na 100.5FM geluister en besef, as dít die musiek is waarna Laevelders luister, sal ek vinnig my sokkies moet optrek,” sê Barnard.

LEES OOK:  IN PHOTOS: The Innibos Vind vir Frikkie Treasure Hunt gets under way at Lowveld Media

“Die program van Liedjiebos spreek van ‘n wye verskeidenheid. Dit gaan pret en visueel sterk wees. Dit was belangrik dat dit nie slegs my eie styl is nie, daarom het ek instrumentasie ingebring wat elke liedjie tot sy reg sal laat kom in die groot verskeidenheid genres wat daar is.”

Barnard glo daarin om haar met talent te omring. Saam met haar is van die musikante onder andere Adam Helberg, Vinnie Henrico op tromme (hy is só veelsydig, vergeet van doem-tjiek-doem-tjiek”) en Jahn Beukes, saam met wie sy in die verlede ook gewerk het aan die verhoogstuk Uit die bloute.

“Jahn is baie goed daarmee om ‘n ligte kant in te bring. Hy laat mense lag.”

Saam met die professionele musikante, wat sanger Jan Blohm as gaskunstenaar insluit, span Barnard verskeie Laeveldse kreatiewe geeste in vir die musiek sowel as vir die beeldende kuns. Germandt Geldenhuys gaan ‘n gedig voorlees wat in dans geïnterpreteer gaan word. Hy sing ook ‘n duet saam met Barnard in hierdie veelsydige produksie.

Jan Blohm. > Foto: Coetzer Cooke

Ilona Petzer is die kurator wat die kunswerke byeenbring. Barnard sê dat dit opwindend was om te sien watter gedigte deur die onderskeie visuele kunstenaars gekies is om uit te beeld.

LEES OOK: Seldsame verskynsel ‘n hoogtepunt vir gesin wat wildtuin besoek

Onder die visuele kunstenaars is Petzer self, asook Anton en Hanlie Bosch, Esra Bosch, Mariana Zwaan, Winston Thekiso, Erica Schoeman en Carel de Beer.

Barnard het self ook haar hand aan ‘n skilderstuk én ‘n beeldhouwerk gewaag.

Sy benadruk dat Kuns inni Liedjiebos nie moontlik sou wees sonder die ruim ondersteuning uit die gemeenskap nie.

“Christie’s is ‘n lieflike venue waar die kuns tot hul reg sal kom, terwyl Carien Craig van Canary Walk Mall se entoesiastiese bydrae en borgskap ook daartoe gelei het dat ‘n skoolprojek werklik die gemeenskap betrokke gekry het.”

• Kuns inni Liedjiebos is op Vrydag, 30 Junie, om 18:00 by Christie’s at 32 on Russell en kaartjies is R300. Dit sluit die musiekvertoning, kunsuitstalling, en ‘n vingerete in.

• Vir die volledige Innibos-program en skakels na die kaartjieverkope, gaan na innibos.co.za. Kaartjies is te koop by Computicket, en ook by die nuwe Innibos-kantoor op die hoek van De Villiers- en Anneckestraat by Sonpark-sentrum in Mbombela.

Back to top button