Local news

Gholfdroom nou amper realiteit vir dié Laevelder

Meiring de Clercq was en is steeds 'n kranige gholfer, maar weens sy verlamming moes dit bietjie aan die agterspeen suig. Daar is egter nou lig aan die einde van die tonnel met 'n spesiale rolstoel in die pyplyn.

Nadat Meiring de Clercq in Mei 2019 verlam gelaat is ná ‘n ongeluk met ‘n minibustaxi, het hy gedink hy sal sy gholfstokke vir ewig opsy moet skuif, dalk verkoop.

“Gholf was ‘n groot deel van my lewe, wat net ewe skielik van my af weggevat is,” het hy gesê.

Maar nou wink sy gholfdroom weer na hom.

LEES OOK: Kuier saam by die Wegbreekfees in Mbombela!

‘n Spesiale rolstoel, spesifiek ontwerp vir parapleë, en soveel te meer, parapleë wat elke dan en wan ‘n ronde gholf geniet, is in Duitsland bekendgestel. “Met behulp van hierdie rolstoel sal ek uiteindelik weer aan gholftoere kan deelneem, en nie net van die kantlyn af kyk nie.”

Die rolstoel span tegnologie in om parapleë te help om regop te kan staan. Dit stabiliseer hulle deur hulle by hul knieë en middel vas te hou sodat hul arms vrylik kan beweeg.

Al wat nog in sy pad staan is die koste van die stoel, wat meer as R700 000 beloop.

LEES OOK: Fast and furious action, chess and debating at Penryn versus Uplands Derby

‘n Skarefinansieringsveldtog is op BackaBuddy geloods om geld in te samel om De Clercq se droom te help verwesenlik. Hoewel hulle al reeds sowat R80 000 ingesamel het, is daar steeds ‘n groot bedrag uitstaande.

MJ Duffue, wat saam met De Clercq juniorgholf gespeel het, speel tans in die PGA-toer in Amerika. Hy het van De Clercq se situasie en droom te hore gekom en besluit om ook sy deel te doen om sy vriend te help. “Hy het gereël dat Ernie Els, Retief Goosen, Brandon Grace en Erik van Rooyen die res van die geld gaan betaal,” het De Clercq aan Laevelder vertel.

LEES OOK: Diesel se swaelinhoud by depot in Onderberg tóg te hoog bevind deur laboratoriums

“So die deal behoort seker teen einde van die maand se kant voltooi te word.”

De Clercq is beslis iemand wat nie opgee op sy drome nie, en danksy dít kan hy dalk binnekort weer ‘n algemene gesig op die gholfbaan wees.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button