Local newsNews

Meesterklasse vir deelnemers van eisteddfod eersdaags in Mbombela aangebied

Die akteur Kaz McFadden bied op 27 Julie meesterklasse aan waarby die Nelspruit Eisteddfod-deelnemers kan baatvind.

Innibos en die bekende akteur, Kaz McFadden, span kragte saam om ‘n werkswinkel ter voorbereiding van die komende eistedfodd aan te bied.

McFadden is bekend vir sy televisierolle in onder meer Binnelanders, Villa Rosa en 7de Laan, terwyl hy as verhoogkunstenaar in teaterproduksies soos Vaselinetjie en Iewers op die grens te sien was. Hy is ook ‘n passievolle dosent en besturende direkteur van PALI Incubation, ‘n opleidingsentrum vir akteurs, regisseurs, vervaardigers en ander kreatiewe siele.

In die werkswinkels, of meesterklasse soos hulle ook bekendstaan, val die klem op temas soos stemgebruik, stemprojeksie, uitspraak, memorisering van tekste, lyftaal, selfvertroue, toesprake, filmwerk, die kies van tekste, dialoë, hoe om die senuwees te kalmeer en die sakekant van die vermaaklikheidsbedryf.

LEES OOK: Drie kom tot Mbombela man en poedel se redding ná hond aanval

Leerders wat aan die Nelspruit Eisteddfod in Augustus gaan deelneem, sal beslis hierby baat vind. Die werkswinkels word deur die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) geborg en is deel van Innibos se projekte om die kunste te bevorder.

“Dit is vir NATi belangrik om in die jeug te belê, want hulle is die teaterondersteuners of dalk -makers van die toekoms,” sê Cornelia Faasen, die hoof- uitvoerende beampte van NATi.

Andy Lubbe, Innibos se direkteur, sê hy is reeds jare lank by die Nelspruit Eisteddfod betrokke, en dat dié organisasie hom na aan die hart lê.

“Hierdie is ‘n besonderse geleentheid, en ek wil die Laeveld se jeug aanmoedig om die kans met albei hande aan te gryp.”

LEES OOK: AfriForum Nelspruit-tak staan Grace Baby Haven met skenking by

Die meesterklasse word op Woensdag, 27 Julie, om 14:00, 16:00 en 18:00 by die Communio Kerk aangebied. Daar is verskeie klasse vir Afrikaans en Engels, sowel as vir laerskool- en hoërskoolleerders. Alle kinders met belangstelling in die uitvoerende kunste word genooi om hierdie klasse by te woon.

Die inskrywingsfooi is slegs R50 per persoon. Inskrywingsvorms (Afrikaans en Engels) kan op innibos.co.za verkry word.

Back to top button