Local newsNews

Kruie en ouwêreldse gasvryheid op eie werf

Op Ouwerf word daar nie nét met antiekware en oudhede gespog nie.

Die boer en sy vrou, Pieter en Melitza Krügel, gaan Sondae nou ook gaste welkom heet. Die egpaar wil graag hul besonderse plaas met besoekers deel.

Pieter en Melitza Krügel.

Per afspraak kan gaste die koek van die dag geniet, en tuisgemaakte ystee is ook op die spyskaart. By hierdie lushof en kruieparadys op die Dullstroom-pad (R36), is dit duidelik dat hier van sonop tot sononder gewerskaf word.

Van voor die televisie sit om tyd te verwyl is daar nie van sprake nie. In Januarie het die egpaar ‘n groep dames verwelkom en Melitza het hulle onder meer kruie in asyn laat inlê. Haar insig en kruiekennis is ongeëwenaard. Sy het boererate en resepte wat selfs rumatiek sal laat les opsê. Melitza glo daarin dat kruie die natuur se apteek is.

Lees ook: Ilana benodig ’n rolstoel na Pusher se sindroom diagnose

Melitza se 300 roosbome staan soos ‘n reënboog van blomme en pronk in die son. Die pragtige, kleurvolle gesig getuig van die harde werk wat sy daarin belê het. In 2020 het sy aan die begin van die Covid-19-inperking elke gat self gegrawe en die 300 roosbome eiehandig geplant. Pieter het toe pas ‘n operasie aan sy skouer gehad, nadat hy hard met die aarde kennis gemaak het in ‘n perdryongeluk. Hy kon dus nie oudergewoonte self handjie bysit nie.

Pieter is ‘n gevestigde kunstenaar. Baie van sy skilderye beeld plaastonele, Nguni-beeste en wildlewe met sy unieke styl, en sal enige kunsliefhebber laat stilstaan. Deur die jare het Pieter ‘n outydste smidswinkel se inhoud versamel en baie antiekware en gereedskap kan in sy uitstallings bewonder word.

Lees ook: Kruise van Engelse grafte uit Boereoorlog gesteel

Pieter met een van sy perde. Dié word bederf met ‘n suikerklontjie.

Daar is byvoorbeeld al genoeg implemente en kaste versamel om replikas van Lydenburg se ou geboue voor te stel. Dit is alles ondernemings wat in die 1900’s reeds in Lydenburg bestaan het, soos AA Morgan, McGee’s se ou motorhawe en die Koeleman Smidswinkel. Hy versamel al sy hele lewe lank oudhede.

Hy het tot boumateriaal soos kleistene, sinkplate, vensterrame en dakbalke van ou geboue versamel wat in die uitstallings gesien kan word. Dit alles leen tot Ouwerf se plaasmuseumatmosfeer. Die plaas is al ‘n museum in eie reg. Met alles in ag genome, wil hy hê die plaas moet ‘n museum wees wat soos Lydenburg van ouds lyk.

’n Skets van Pieter van die bekende McGee’s Garage in Lydenburg soos dit in die laat 1800’s gelyk het.

Ouwerf is ‘n ware toeristebestemming waar besoekers kan stilhou en die rustige plaas- en dorpslewe weer ervaar soos dit vroeër was. Laat weet net vooraf dat die Krügels kan weet wanneer om die ketel aan te skakel en die koek uit die oond te haal. Behalwe die roostuin kan besoekers deur die kwekery wandel, die skrop-hoenders en eende voer en heerlike perskekonfyt aankoop. Alles is eie aan die kontrei en Lydenburg. Skakel Pieter by 074 270 7222 om ‘n afspraak te maak vir ‘n besoek aan Ouwerf.

Back to top button