Local newsNewsNews

Pa se noodhulpopleiding red seuntjie se lewe na hy byna verdrink in Witrivier

Een ding wat 'n ma wie se seuntjie amper verdrink het, aan almal wil benadruk, is om vir noodhulpopleiding te gaan. "Of jy kinders het of nie, en al dink jy nie dit sal ooit nodig wees nie."

“Die oomblik toe my dogtertjie agterkom dis stil en sy hoor nie meer vir boetie nie, het sy onmiddellik gaan soek en hom in die swembad gesien waar hy met sy gesig na onder gedryf het.”

Só beskryf ‘n ma die oomblik wat enige ouer vrees – toe haar 21 maande oue seuntjie in hul swembad geval en byna verdrink het.

Danksy sy pa se onverskrokke optrede, die nood- en mediese personeel se behandeling en die bystand van vriende en bure, sterk klein Declan Odendaal goed aan en behoort hy geen permanente skade oor te hou nie.

Declan, Candita, Bordeaux, Elika en Martin Odendaal.

Candita Odendaal sê die middag van 10 Januarie het “normaal” verloop. Sy was besig met aandete in die kombuis, haar man, Martin, was besig met afmetings van die kombuisvenster, en die kinders, Elika (9) en Bordeaux (6), was in en uit die huis met hul rolskaatse, met klein Declan al agter hulle aan.

Toe Elika haar kleinboet op die water sien dryf, het sy dadelik alarm gemaak. “Sy het histeries gegil en my man het alles gelos, gehardloop, Declan se bewustelose liggaampie uitgelig en onmiddellik met KPR (kardiopulmonêre resussitasie) begin.”

Declan Odendaal geniet uShaka Marine World tydens ‘n vakansie in Durban.

Candita het haar vriendin, Tania Vos, ’n gekwalifiseerde verpleegster, gebel en dié en haar man, Ettienne, het onmiddellik gekom om te help; hulle het ook die nooddienste ontbied.

“Die bure om ons het ook opgedaag. Ons het so baie hulp in ‘n bitterkort tydjie gekry en dit het gevoel of ek in ‘n tuimeldroër is.”

LEES OOK: SPAR’s Rural Hub Programme empowers small-scale farmers

‘n Buurman, Francois Scheepers, het vir Martin met die KPR gehelp, terwyl ‘n buurvrou, Daleen Schoeman, fisio toegedien het vir die slym op Declan se longe; dit het hulle gedoen tot die Lifemed-ambulans opgedaag het.

Vandaar het paramedici hom na die naaste ongevalle by Kiaat Hospitaal geneem. Daar het die dokter hom probeer stabiliseer sodat hy verder na Nelspruit Mediclinic vervoer kon word.

Candita Odendaal hou vir Declan vas terwyl hy in die hospitaal is.

By Mediclinic aangekom, het nog helpende hande ingetree om die klein lewetjie te red.

“Dr Carine Smit en ER24 se Cobus Els het Declan geïntubeer en die vervoer na Netcare Garden City per helikopter is gereël. Sean Groome en Waldo Zweef van ROCKET (Rapid On Call Emergency Transport) het die ambulans by Alzu Middelburg ontmoet – Cobus en sy span was ongelooflik,” sê Candita.

Sy vertel haar seuntjie is om en by 02:00 in die pediatriese intensiewesorgeenheid opgeneem, waar die verdrinkingbehandeling kon voortgaan.

LEES OOK: More fatalities recorded on Mpumalanga’s roads this festive season

“Dr Miles Bartlett het Declan behandel. Ek kan hom en sy personeel net bedank vir die ongelooflike versorging wat hulle gegee het. My kind lewe en dis absoluut die Here se genade dat dinge só gebeur het. Dankie is so ‘n klein woordjie; dit sê definitief nie genoeg nie.

Declan en sy pa en held, Martin, geniet ‘n dag op die strand by Umzumbe in KwaZulu-Natal gedurende Oktober.

“Iets wat ek moet beklemtoon is die ondersteuning wat ons ontvang het. Die hele gemeenskap het ingetree en regoor die hele wêreld het mense vir ons gebid en ondersteuning gegee. Hoe sê ‘n mens dankie?”

Nog ’n ding wil Candita aan almal benadruk: kry noodhulpopleiding. “Of jy kinders het of nie, en al dink jy nie dit sal ooit nodig wees nie.

LEES OOK: Lack of maintenance billed as cause of cuts

“My man is ons held. Dis deur die paramedici en die pediater bevestig; indien hy nie so gou reageer het en dadelik met die KPR begin het nie, sou ek nie weer my kind kon sien glimlag nie, nie weer sy stemmetjie kon hoor nie, of hom kon vashou nie.

Declan Odendaal tuis op 17 Januarie.

“Hy is ’n wónderwerk. My kind het amper verdrink en met die ingryping, sy pa se vinnige reaksie en die Here se genade, het hy teruggekom na ons toe.”

Declan was vanaf 11 Januarie in die intensiewesorgeenheid tot en met sy ontslag op 15 Januarie.

Hy sterk tans by die huis aan en sal eersdaags met die fisio- en arbeidsterapie voortgaan tot sy volkome herstel.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@lowvelder.co.za.

For free breaking and community news, visit Lowvelder’s website: Lowvelder

For more news and interesting articles, like Lowvelder on Facebook, follow us on Twitter or Instagram 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button