Local newsNews

Verhoed so dat jou bagasie voete kry

Desember en Januarie is die ideale tyd om te reis, maar ook ‘n seisoen vir bagasiediewe om fees te vier.

Die vakansieseisoen bring derduisende mense lughawens, treinstasies, bushaltes en hawens toe. ‘n Versekeringsmaatskappy maan verbruikers om versigtig te wees en ekstra voorsorg te tref.

“Min dinge plaas meer van ‘n demper op jou vakansie as wanneer jy by jou bestemming aankom en uitvind dat jou sak of tas gestroop of gesteel en jou kosbare besittings verlore is,” het Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker, gesê.

“Daar’s selfs ‘n hoër risiko tydens die feesseisoen omdat baie mense met geskenke en groter bagasie-items reis. Vir misdadigers is dit die perfekte geleentheid: meer passassiers, meer tasse, groter kanse op vertragings en verlore bagasie en ‘n groter kans om vinnig ‘n skelm rand of tien te maak.”

Photo source: www.freepix.com

Voordat jy vertrek:

Wees selektief oor watter items jy saamneem. As jy nie daai duur paar tekkies, horlosie, baadjie of toestel gaan gebruik nie, los dit eerder tuis.

Pak slim:

Bagasiestropers het beperkte tyd om jou tas oop te kry en te neem wat hulle kan, so plaas die minder belangrike/waardevolle items heel bo.

Sekuriteit en geheime kompartement:

Belê in bagasie met goeie sekuriteitskenmerke, soos kombinasieslotte. Dink daaraan om tasse met geheime kompartemente te koop wat dit moeiliker maak vir diewe om by waardevolle items uit te kom.

Byderhand:

Hou waardevolle items soos skootrekenaars, kameras, juweliersware en kredietkaarte eerder by jou. Dieselfde geld vir duur grimering en parfuum, sover die limiete van items wat jy aan jou mag hê, dit toelaat.

LEES OOK: Aandag alle aftreeoorde: Petanque wag by Pumalanga

Staan uit:

Misdadigers kan maklik ongesiens met jou tas verdwyn wanneer dit baie soos ander lyk, so maak seker dat jou tas uitstaan tussen ander – al is dit net met ‘n helder lint wat om die handvatsel gebind is.

Kontakbesonderhede:

Maak seker dat jou besonderhede, en dié van ‘n vertroueling, beide aan die binne- en buitekant van jou tas verskyn. Dit maak dit makliker om te bewys dat dit joune is en makliker vir dié wat dit vind of opspoor om jou te kontak.

Driedubbele beskerming:

Ritssluiters wat gesluit is, kabelbinders en tasse wat goed toegedraai is,bied goeie sekuriteit en sal ook help om misdadigers af te sit.

Baie belangrik:

Hou altyd jou bagasie onder oë en wees op die uitkyk vir verdagte individue. Diewe het net ‘n sekonde of twee nodig om met jou tas te verdwyn.

Slegs beamptes:

Moet nooit jou bagasie aan iemand toevertrou voordat jy deeglik seker gemaak het dat hulle ‘n verteenwoordiger van ‘n betrouenswaardige verskaffer is nie.

Moenie “adverteer” nie:

Vermy dit om jou tas of sak oop te maak en te onthul wat binne is. Wanneer jy dit móét oopmaak, soos wanneer ‘n sekuriteitsbeampte jou vra, doen dit vinnig en maak dit onmiddellik weer toe.

Te vroeg:

Moenie jou tasse te vroeg inboek nie. Dit gee aan misdadigers meer tyd om ondersoek in te stel en hul hande op jou besittings te kry.Beweeg vinnig: Kom so gou moontlik by die aflaaipunt/draaiband met bagasie uit om te vermy dat joune onwelkome aandag trek.

Neem foto’s:

Neem foto’s van jou bagasie voordat jy dit inboek sodat, indien daar enige probleme met jou bagasie by jou bestemming is, jy dit dadelik kan aanspreek en bewyse het van hoe dit gelyk het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button