Local newsNews

Hoërskool Lydenburg maak sy eeufeesplanne

“Die wêreld sal die onmeetbare ruimte oorwin...” en “kos in pilvorm”. Dit is die vooruitsigte van ’n leerling, ene M. Trumpelmann, oor hoe die wêreld oor ’n honderd jaar sou lyk, geskryf vir die Hoërskool Lydenburg se jaarblad in 1950. In 2021, ’n honderd jaar nadat die skool gestig is, is dit inderdaad waar.

Oor baie jare waarin die skool vanaf ’n nederige begin gegroei het, is dit vandag ’n skool waarmee daar op alle vlakke in die samelewing mee rekening gehou kan word. Die uurglas is omgetiep en die sand loop stadig uit om generasies se drome in Oktober saam te bind. Die Hoërskool Lydenburg Eeufees, ’n makietie na ’n honderd jaar, ’n reünie en ’n fees vir 1-3 Oktober 2021.

Dit is wanneer Hoërskool Lydenburg amptelik ’n honderd jaar se bestaan sal vier, van ’n droom deur gewone dorpsmense en boere om hul kinders te onderrig, tot die realiteit van waar dié top hoërskool vandag sy plek in die land en gemeenskap volstaan.

Die Hoërskool Lydenburg Eeufees, ’n makietie na ’n honderd jaar, ’n reünie en ’n fees vir 1-3 Oktober 2021.

Die bou en ingebruikneming van Hoërskool Lydenburg (1921) kan ten volle aan mnr. Elias de Souza toegeskryf word. Ds GD Worst skryf in die Lydenburg Eeufees Gedenkboek (1850-1950): “Toe ons die eerste maal die voorstel agiteer vir ’n middelbare skool het ’n vooraanstaande boer gevra ‘as al die boere se seuns nou matrikulasie aflê, wie moet dan die koring saai?’”

Elias de Souza was een van die baanbrekers wat die skool se ontstaan in 1921 bearbei het. Die skoolkoshuis is na hom vernoem.

Die departement sou net ’n hoërskool goedkeur as daar ’n honderd leerlinge bo standerd ses (graad agt) was. Daarvoor moes ’n koshuis gebou word. In 1917 was daar reeds ’n koshuis in Lydenburg, maar nie een wat aan die nuwe hoërskool se vereistes sou voldoen nie. Die tweevierdieping-pastorie onder beheer van ds. C Jansen Weilbach (De Ark Gastehuis) is gebruik, maar dit was vir jong laerskoolkinders.

Onder aandrang van mnre. Elias de Souza, Nic Schoeman, C. Theo en Rabie het die projek afgeskop. Die destydste dorpsraad het vir die doel ’n stuk grond en £10 000 gewillig. Vir die skoolkoshuis is ’n gemeentevergadering gehou en die NG Moedergemeente het £14 000 toegestaan vir die bou van die kosbuis. Die geld is by Standard Bank geleen. As vergunning van die bank sou daar nie rente op die lening gehef word nie. Dis ongekend in vandag se dae. Hierdie koshuis het die hoërskool tot stand laat kom.

‘n Optog deur leerders in 1957 in Lydenburg se Voortrekkerstraat, toé Markstraat. Vlotte is gebou wat soos vliegtuie en selfs bote lyk. Dit was om die groot karnavalnaweek by die skool in te wy. Met die karnaval is daar geld ingesamel vir die skool se swembad; dit is in die negentiger jare toegegooi weens instandhoudingskostes. Elize Boshoff (née Koeleman)  het vertel dat haar pa, Victor Koeleman, van hul babawolfhondjies geskenk het om ten bate van die fondsinsameling te verkoop.

Exelsior was beslis die reg te naam wat die koshuise destyds gekry het. Mnr. C. Bauling het sy hande vol gehad omdat die seuns en meisies dieselfde eetkamer moes gebruik. Die naam het eers latere jare naam De Souzahuis verander en Keethuis, die dogterskoshuis, is eers in die 1940’s gebou.

Almal het op skool geleer Meester Poen was een van die eerste onderwysers in Lydenburg. Maar vir donkiejare reeds is dié brokkie in die Lydenburg Eeufees Gedenkboek iets waarin ’n mens jou kan verkneukel: “Meester Poen was die swakste geleerd van die drie meesters wat in 1848 van Enkelhuizen Nederland per ossewa na Lydenburg gereis het.”

Die arme Voortrekkerkinders het egter baie by hom geleer. Sou Meester Poen ooit kon droom dat sy swak geleerdheid al die pad van 1848 tot 2021 deel van Lydenburg se geskiedenis sou uitmaak, 173 jaar later? Die Hoërskool Lydenburg het ’n sterk fondasie vasgepen vir ’n diverse groep mense wat op alle vlakke van die samelewing presteer en betrokke was deur die jaar.

Om meer inligting oor die eeufees te bekom, skakel gerus die skool, Ian Breitenbach by 013-235-2111 of Michelle Boshoff by 076-091-8401. ’n Hele komitee werk reeds langer as ’n jaar om ’n fees der feeste te hou. Daar is reeds ’n feesblad op Facebook met meer as 1 200 lede gestig. Dit sal sporadies nuus deel en meer inligting oor die feesnaweek bekendmaak. Volg die blad met die naam: Hoërskool Lydenburg Eeufees Lydenburg Bond High School Lydenburg Centenary  en versoek om aanvaar te word.

Ons vra oud-leerders om kontak te maak en om staaltjies en ou foto’s te stuur aan michelle@steelburgernews.co.za, asook ib@lydens.co.za. Daar kan ook by die WhatsApp-groep aangesluit word by 082-729-6733. Dis belangrik dat oud-leerders, hul familie en vriende nie net vir die feesnaweek registreer nie, maar ook vir die LydenBond.  

Die skool se ontstaan is opgedra aan Elias de Souza.
Vlotte vir die kermis in 1957.

Back to top button