Local newsNews

Video: Nuwe hoop vir Sutherland-boere na nege jaar se droogte

Soos talle boere in ander dele van die land, gaan dié van Sutherland gebuk onder 'n uitmergelende droogte wat al nege jaar lank duur. Talle wil, en het al handdoek ingegooi. Maar nou gee 'n reeks boorgate wat water oplewer, nuwe hoop aan die boere van die distrik, berig Izak du Plessis.

Die veld rondom Sutherland is bruin en kaal en dor. Skaapooie sleep hul maer en uitgeteerde lywe moeisaam deur die woestyn, terwyl wolwit lammers rondom hulle huppel asof niks verkeerd is nie. Dit is die resultaat van nege jaar se ononderbroke droogte waaronder boere van die distrik gebuk gaan. “Vanjaar is ‘n besondere goeie oesjaar vir lammers ten spyte van die uitmergelende droogte,” sê Willem Obermeyer, ‘n skaapboer van die plaas Hebron naby Sutherland.

Willem Obermeyer. Foto: Izak du Plessis

Die hoeveelheid nuwe lammers is nie noodwendig goeie nuus nie, volgens Obermeyer. Hy sê boere moes juis hul kuddes inperk weens die droogte, wat die nuwe oes ‘n verdere las maak, want die kanse vir reën bly maar nog baie skraal. “Maar ons het darem nuwe hoop na ‘n string boorgate wat sukses opgelewer het,” vertel Obermeyer se vrou, Hester, wat ‘n sakevrou en droogtehulpkoördineerder vir die distrik is.

Hester Obermeyer.

Die Obermeyers, wat op die punt was om hul plaas vir ‘n ander heenkome te verlaat, het na die sukses van ‘n ander boer besluit om self te boor vir water. “Dis baie duur en ek moes van my sentimentele en waardevolle oudhede in my winkel verkoop om vir die boorgat te betaal,” sê Hester. Hulle moeite is beloon met ‘n boorgat wat op 70 meter meer as 70 000 liter per uur opgelewer het. Volgens Willem het dit van die ander boere gemotiveer om self te boor, en almal het tot dusver groot sukses behaal.

Willem en Hester Obermeyer.

“Dit gee vir ‘n mens nuwe moed om aan te gaan en die langdurige droogte die hoof te bied,” sê Willem.

Izak du Plessis het met Willem en Hester Obermeyer op hul plaas, Hebron, buite Sutherland gepraat oor hul ervaring van die droogte en hul sukses met die boorgat. Kyk die video hier:

Back to top button