Local newsNews

Refentse maak sy verskyning binnenshuis met Innibos

Die gewilde Refentse Morake het met sy humorsin en pragtige musiek sommer ’n klomp aanhangers verwerf.

Innibos se tweede In jou huis-konsert is die afgelope naweek gehou, met Sarel en Leanda Cilliers wat as gasheer en -vrou vir hierdie projek ingestaan het. Saam met nabye vriende is daar groot makietie in die Bateleur-restaurant gehou.

Dat diegene in die vermaaklikheidsbedryf tydens die inperking swaargekry het, is ’n voldonge feit. Refentse het gaste vertel hoe moeilik dit werklik gegaan het en hoe die kreatiewe vure juis deur hierdie uitdagende tye aangesteek is. Hy het gaste vermaak met van sy eie oorspronklike treffers, soos “Reisiger” en “Liefdegenerasie”, maar ook dit waarvoor hy so bekend is, uitstekend gedoen: van Anton se “Kruidjie-roer-my-nie” tot Elvis Presley se “Blue suede shoes” is met nostalgie en oorgawe uitgevoer.

Sy sielvolle vertolking van “Sonvanger” het die gaste aangegryp. Hy het ook die nuwe vrystelling, “Rig jou oë na die berge”, wat hy saam met Joe Black opgeneem het, gesing.

Met Refentse se gemaklike verhoogpersoonlikheid het hy gaste vermaak met vele staaltjies. Min mense weet dat Refentse baie musikaal is en kan buiten die kitaar ook tromme, die baskitaar en klavier speel. Saam met sy kitaarspeler, Penroy, het Refentse topvermaak vir die hele gesin gebied.

Sy liefde vir Afrikaans het ontstaan toe sy ouma, wat by ’n privaat Afrikaansskool gewerk het, die geleentheid gekry het om een van haar kleinkinders daar te laat onderrig. Omdat Refentse in daardie stadium versot op Afrikaanse sangers was, het die geleentheid hom toegeval. Nie net is hy vlot in Afrikaans nie, hy kan trouens agt van die 11 amptelike tale glad praat.

Radio Laeveld het die konsert regstreeks op 100.5fm uitgesaai en Robin Jansma het gesorg dat die uitsending seepglad verloop. Luisteraars kon inskakel en via SMS’e boodskappe en versoeke aan Refentse stuur.

Met hierdie konsert wat deur kykNET geborg is, het Innibos nie net werk aan ’n sanger en sy kitaarspeler verskaf nie, daar is ook in die gemeenskap teruggeploeg. Die konsertgaste se bydrae gaan aan Huis Betlehem geskenk word. “Huis Betlehem lê ons na aan die hart,” het Leanda gesê.

Roan Ash is volgende aan die beurt.

Besoek Innibos se webtuiste, www.innibos.co.za, gerus vir die volledige program, en maak seker dat jy inskakel en deel van hierdie wonderlike ervaring is.

LEES OOK: Jo Black se voorstoepverskyning ‘n ervaring

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button