Editor's choiceEditor's noteElectionsMunicipalNewsNews

TCM rassisties met afsnywerk

LYDENBURG – Vir die afgelope drie maande is geen afsnylyste vir elektrisiteitstaking vir uitbreidings anders as dié van sentrale Lydenburg ontvang nie. Die voormalige kontrakteur van diskonneksies, mnr. Samora Motlatje, het onlangs aan die Steelburger/Lydenburg Nuus erken dat sedert sy kontrak in Maart verlede jaar verstryk het, hy slegs afsnylyste vir die sentrale binnedorp en …

LYDENBURG – Vir die afgelope drie maande is geen afsnylyste vir elektrisiteitstaking vir uitbreidings anders as dié van sentrale Lydenburg ontvang nie.

Die voormalige kontrakteur van diskonneksies, mnr. Samora Motlatje, het onlangs aan die Steelburger/Lydenburg Nuus erken dat sedert sy kontrak in Maart verlede jaar verstryk het, hy slegs afsnylyste vir die sentrale binnedorp en ander kleiner uitbreidings in die dorp ontvang het. Hy werk tans net in opdrag van Thaba Chweu vir afsnywerk.

“Selfs al moet ek uitgaan na die gebiede sal ek nie. Ons word met klippe bestook en vrees telken vir ons lewe.”

Die koerant het verlede jaar tydens die hele Eskomdebakel ook onthul dat daar toe ook nét in die sentrale dorp gesny is.

‘n Bron in die munisipaliteit het bevestig dat dié tipe rassistiese diskriminasie weer kop uitsteek, veral in die lig van die opkomende verkiesing. “Hulle wil natuurlik verseker dat stemme nie belemmer word nie en probeer dus van hulle wyke gelukkig hou deur nie hulle elektrisiteit op te skort nie, ongeag of hulle agterstallig is of nie.”

Dit, nieteenstaande die feit dat TCM steeds in die rooi et hulle rekening by Eskom is.

‘n Herrie het ook onlangs losgebars nadat amptenare van die munisipaliteit en verkeer verskeie besighede en wonings se toevoer op ‘n Vrydagmiddag afgesny het. Inwoners en besigheidseienaars moes bontstaan met hofbevele om heraansluiting te verseker.

Motlatje het bevestig dat hy nie deel van dié afsnywerk uitgemaak het nie.

Volgens die munisipale kredietbeheer en skuld invorderingsbeleid kan die munisipaliteit slegs binne 10 werksdae na die verval van ‘n 14-dae grasie-periode vir die betaling van ‘n rekening in terme van die afsy-kennisgewing dienste staak en ook net as geen betaling ontvang was nie, geen ooreenkoms gemaak is vir die terugbetaling van die uitstaande rekening nie en ook as geen bewys van registrasie as ‘n afhanklike (indigent) binne die 14-dag periode ontvang is nie.

Die bron het verder verklap dat Skhila (‘n DA-wyk), die Indiërgebied en Kellisville ook onder onwettige afsnywerk deurloop. “Die politieke speletjie word gespeel om veral Skhila se inwoners so de josie in te maak, dat hulle moontlik nie weer vir die DA sal stem nie.

Om verder sout in die wonde van die inwoners van die uitbreiding te vryf sien hulle d t Mashishing, Simile en ander woonbuurte nie, ongeag van wanbetaling, gediskonnekteer word nie. Dit is alles ‘n politieke magspeletjie vir verkiesingsdoeleindes.”

DA-raadslid Farhad Essack se hy is bewus van die feit dat slegs tradisionele blanke-, Indiër- en kleurlinggebiede die meesteonder die afsny van elektrisiteit gebuk gaan. “Geen afsnylys vir tradisionele swart areas soos Mashishing, Simile en Harmony Hill word aan die kontrakteur, Full Output, gegee vir effektiewe diskonneksie van elektrisiteit in dié areas nie. Dié verkiesingslenter werk baie goed vir die ANC,” het Essack aan die koerant gesê.

Volgens DA MP, Sonja Boshoff is dit is so duidelik soos daglig dat die ANC besig is met ‘n politieke spel wat hulle duur te staan kan kom. “Die DA wil graag weet hoe dit moontllik is dat die kiesers wat die dorp sover staande gehou het nou geteiken word deur krag deur die bank af te sit. Waarom word net hierdie gebiede en nie die ander geteiken nie? Al is van die gebiede ‘n DA-wyk is die party steeds onder verstrek van die ANC-regering wat dus probeer verseker dat DA-wyke nie deel van die groter speelveld word nie.”

TCM het nie op enige navrae wat aan hulle gerig is gereageer nie.

Back to top button