Editor's choiceEditor's noteLocal newsNews

‘Teervisse’ behoort die aandag te trek

BURGERSFORT – ‘n Plaaslike onderwyseres, me. ODilhea Keulder, het in die voetspore van ander ontstoke inwoners gevolg en nou ook haar kreatiwiteit ingespan om die aandag van die plaaslike munisipaliteit te kry. Dit volg na ‘n waterpyp reeds vir meer as ‘n maand onophoudelik voor haar huis in Elephants Hill lek. “Vandat ons Desember van …

BURGERSFORT – ‘n Plaaslike onderwyseres, me. ODilhea Keulder, het in die voetspore van ander ontstoke inwoners gevolg en nou ook haar kreatiwiteit ingespan om die aandag van die plaaslike munisipaliteit te kry.

Dit volg na ‘n waterpyp reeds vir meer as ‘n maand onophoudelik voor haar huis in Elephants Hill lek. “Vandat ons Desember van vakansie af terug gekom het lek die pyp aanhoudend. Die watermeter is uitgehaal terwyl ons weg was. Ek wonder hoe hulle in my erf ingekom het. Ons het elektriese heinings,” vertel Keulder.

Sy wonder ook hoe die munisipaliteit haar watergebruik kan meet wanneer daar geen meter is nie, “In die verlede is ons verbruik ook verkeerd bepaal. Noudat daar geen meter is nie sal hulle seker hul eie bedrae opmaak,” sê Keulder.

Sy verduidelik dat na ongeveer vier klagtes aan die plaaslike Greater Tubatse Munisipaliteit ingedien is, is werkers ‘n week gelede gestuur om die probleem reg te maak. “Die volgende dag het dit net weer begin lek. Op die hoek van Nong- en Elephantstraat is daar vir vier jaar lank ‘n waterlek waaraan niks gedoen is nie. Ek wil nie hê dit moet die situasie voor my erf word nie,” sê Keulder.

Dit is toe dat sy besluit het om alternatiewe stappe te neem in die hoop dat die plaaslike regering sal reageer. “Nadat Rosie in die slaggat op die Bambi-pad in haar swemkostuum gaan sit het word daar iets aan die probleem gedoen. Die situasie is onaanvaarbaar en as almal begin kla sal daar dalk iets gedoen word,” vertel sy.

Keulder het toe haar visstok, boek en kampstoel nadergehark en probeer om ‘n teervis uit die poel uit in te katrol. “Dit is ‘n gemaklike posisie. Ek hoop net dat ek iets vang,” lag sy.

Rosie Morrison het hoofopsrifte in verskeie koerante gehaal nadat sy met seep en al in ‘n slaggat op die berugte Bambipad “gebad” het. Nico de Beer het kort op haar hakke gevolg en selfs sy lyne in ‘n slaggat op dieselfde pad probeer nat aak. Beide het hoofopskrifte in verskeie koerante gehaal en hulle boodskap so ook oor sosiale media bekend gemaak.

Steelburger/Lydenburg nuus het na die plaaslike Greater Tubatse Munisipaliteit gery om antwoorde by die woordvoerder, mnr.Thabiso Mokoena te probeer kry na ‘n paar selfoon oproepe onsuksesvol was. Mokoena was ongelukkig weereens nie beskikbaar nie.

Back to top button