HealthLifestyleLocal newsNewsNewsPeople

KANSA skep kankerbewustheid

"Borskanker kom al hoe meer voor by vroue van alle rasse en ouderdomme. Meeste van ons weet van iemand wat deur hierdie ernstige siekte geraak is.

KOMATIPOORT – KANSA-vrywilligers en helpers het verlede week hard gewerk om die dorp se bome weer in pienk lap te tooi om inwoners bewus te maak van kanker. Fanie Erasmus, finansiële verteenwoordiger van Old Mutual, het vanjaar 275-meter- materiaal vir dié doel geskenk.

‘n Damestee word op 7 November om 09:30 vir 10:00 by Akasia Lodge, Hartbeesstraat 29, Komatipoort gereël. Tydens hierdie geleentheid gaan 60 vroue heerlik bederf word.

Die geleentheid word hoofsaaklik gereël om dames te inspireer en bewus te maak van kanker. Dr. Sarita Retief, ‘n onkoloog by Nelspruit Mediclinic, gaan haar kennis met die vroue deel en veral op die voorkoming van die siekte klem lê. Sy gaan oor die invloed van ons leefstylkeuses op ons gesondheid gesels, die gevolge daarvan en ook hoe om dit te oorkom.

Daar is ook gevra dat sy dames sal touwys maak hoe om selfondersoek van hul borste te doen. Daar is heelwat onkunde in dié verband. Kaartjies kan by Komatipoort Apteek, Turning Heads en Jackalberry Koffiewinkel teen R100 gekoop word.Vroue word ook daaraan herinner dat hulle gedurende Oktober gratis borsondersoeke by Komatipoort Apteek kan laat doen. Pryse gaan ook die oggend deur middel van gelukkige trekkings gewen kan word.

Kankeroorlewendes gaan ook hul getuienisse lewer om lyers te bemoedig. Anna-Marie Grewar gaan oor die finansiële impak praat wat die siekte op haar gesin gehad het, terwyl Sharon Brits oor die emosionele impak daarvan gaan gesels. Unieke klere en juwele gaan ook tydens die geleentheid te koop aangebied word.

Monya Erasmus van Old Mutual Makelaars, wie self familielede aan die siekte afgestaan het, het die volgende gedeel:

“Borskanker kom al hoe meer voor by vroue van alle rasse en ouderdomme. Meeste van ons weet van iemand wat deur hierdie ernstige siekte geraak is. Party hoef dalk net ‘n knop te verwyder; ander moet rekonstruktiewe chirurgie ondergaan. Die vrees vir borskanker is so groot dat vroue met ‘n hoë risiko selfs pynlike en duur voorkomende chirurgie ondergaan. Om terug te veg is ‘n fisieke en geestelike uitdaging en daar is natuurlik ook finansiële implikasies. Die mees ooglopende koste is die mediese uitgawes.

“As jy ‘n mediesefonds het, sal dit van die uitgawes dek; dokters, hospitale, X-strale, chemo, en miskien selfs ‘n paar fisiosessies ná die operasie. Maar jy sal waarskynlik ander ekstra uitgawes hê, selfs al het jy ‘n goeie mediesefonds. Daar is baie indirekte kostes wat nie uit die staanspoor duidelik is nie soos die verlies aan inkomste, veral as jy vir jouself werk; herkonstruksie en moontlike langtermynterapie terwyl jy die verlies van jou borste verwerk.

“Die meeste mediesefondse dek nie hierdie uitgawes nie. Ook nie die bykomende koste vir ekstra hulp terwyl jy tuis herstel nie. Kortom, daar is talle onbeplande uitgawes as jy ‘n ernstige siekte soos borskanker kry. Vroue is so goed daarmee om na ander mense om te sien, maar kyk nie altyd so goed na hul eie welstand nie. Neem sommer nóú dié stappe om jou te help om borskanker te hanteer indien jy dit sou kry.

Maak so gou moontlik ‘n afspraak by jou dokter vir ‘n ondersoek. Neem dan ernstige siekte-dekking uit asook dekking vir verlies van inkomste. Dié uitbetalings kan jou help om te fokus op jou stryd om gesond te word sonder dat jy jouself hoef te bekommer oor hoe jy daarvoor gaan betaal.”

Back to top button