Local newsNews

Egpaar wie al 40 jaar in die Laeveld woon oorleef plaasaanval

Rustige Sondagoggend op 'n plaas tussen Mbombela en Barberton ontaard in nagmerrie.

“Ek gaan nie toelaat dat boosdoeners my vrede en vreugde steel nie. Ek is aan niemand onderdanig nie en ek weier om in vrees te lewe.” Só sê Martie Struyf, ‘n 65-jarige wie se rustige Sondagoggend in ‘n oogwink in ‘n nagmerrie ontaard het toe sy en haar man, Wim (68), deur twee gewapende mans in hul huis op ‘n plaas tussen Mbombela en Barberton oorval is.

Dié egpaar, wat al vir 40 jaar in die Laeveld woon, het geweier om Suid-Afrika se jongste plaas-aanvalstatistiek te word deur onverpoos terug te veg.

“Ek gaan nie stil lê en toekyk hoe hulle my man keelaf sny nie. Ek is bietjie anders as dit aanmekaar gesit,” het sy gesê.

Wim, ‘n gesiene sakeman in die Laeveld, was op pad na sy bakkie om brandstof in die stad te koop toe hy besef dat hy sy selfoon in die huis agtergelaat het.

“Toe hy by ons kamer inkom, het die byna ondenkbare gebeur toe twee mans hom kort nadat hy die veiligheidsdeur oopgesluit het, van agter af oorval en platgeduik het,” het Martie, wat nog in die bed was, vertel.

Toe sy tot haar sinne kom, het sy besef Wim word deur die mans teen die grond vasgepen – een gewapen met ‘n mes en die ander met ‘n pistool.

“Een het my man met sy knie teen die grond vasgedruk. Dit was duidelik dat hulle daar was vir geld, en het ook uit die staanspoor die bakkie se sleutels en Wim se selfoon geëis.”

Een van die aanvallers het haar van die voetenent van die bed af geruk en gedreig om haar te skiet. Sy sê dit was die keerpunt. “As een van die mans nie sy aandag op my gevestig het nie, moes ek dalk toekyk hoe hulle Wim se keel afsny, of hom selfs doodskiet. Maar, ons het hulle deurentyd in die oë gekyk, en daar was verwarring in hulle oë.”

Sy onthou dat die een verdagte sy gesig bedek het en die ander slegs ‘n kappie op sy kop gehad het. Albei het swart klere aangehad.

LEES OOK: NHS se eie prinses Diana oorlede

Terwyl sy op die kamervloer gelê het met die aanvaller se skoen op haar keel, het die mans aangehou om die egpaar met die dood te dreig, sou hulle nie gou met kontant vorendag kom nie. Die Struyfs se hond is met ‘n mes gesteek, en hulle Yorkshire terriër het so geskrik dat hulle hom eers ure na die aanval in die werkswinkel gekry het.

“Julle moet my dan maar doodskiet, want hier is nie geld nie,” het sy gesê, terwyl Wim aan die verdagte se hand waarin die mes was, vir lewe en dood vasgeklou het.

‘n Gaping het vir Martie oopgegaan toe haar aanvaller sy medepligtige gaan help het. Ondanks ‘n onlangse knie-operasie, kon sy opspring en die paniekknoppie druk en sodoende Hi-Tech Sekuriteit ontbied.

“Die beheerkamer het my geskakel en die verdagte het gesê ek moet antwoord. Wonder bo wonder kon ek rustig bly, my volle name gee, en verduidelik dat daar groot probleme is sonder dat die verdagtes agterkom. Ek onthou ek het die woorde ‘mes’ en ‘vuurwapen’ gebruik.”

Sowat sewe minute voordat Hi-Tech op die toneel opgedaag het, het een van die mans vir Martie met ‘n hout-toiletpapierhouer, wat hy in die badkamer gaan haal het, oor die kop geslaan.

“Hy het my so hard geslaan dat die bodem van die houer afgebreek het en in die gang afgerol het. Die wond het baie gebloei, en dit het die aanvaller heeltemal omvergegooi. My man het gedink daar is ‘n gat agter my oor, en die feit dat hy hulpeloos was, was vir hom baie erg.”

Toe die mans op pad uit was het sy ‘n kolf uit haar klerekas gehaal en vir Wim aangegee. “Hy kon sy aanvaller op sy skouer bydam.”

LEES OOK: AfriForum ondersteun skole met hulppakket

Die verdagtes het die egpaar in die huis toegesluit en is fort met hulle huissleutels en die paar rand wat Wim in sy sak gehad het vir die brandstof. “As hy nie sy foon vergeet het nie, kon dinge dalk heeltemal anders uitgedraai het,” sê sy.

‘n Ongekende reaksie deur die gemeenskap het kort daarna gevolg. “Binne minute het dit gewemel van sekuriteit, en selfs valskermswewers het die aanvallers gesoek.” Wim is op die toneel vir skok behandel.

Martie is vir haar kopwond behandel en het ‘n bloukol op haar maag opgedoen. Hulle honde is deur Hi-Tech Sekuriteit na Van Wijkstraat Dierehospitaal geneem vir waarneming.  Teen 12:00 was alles weer “normaal” nadat Crawley’s die hele huis se slotte vervang het.

LEES OOK: ‘Skole moet self besluit’

“Die hele voorval het vir niks langer as 10 minute geduur nie, maar dit het soos ‘n ewigheid gevoel. Die werklikheid van wat gebeur het, het ons eers later getref. Ek gaan egter nie in vrees lewe nie.” Sy sê sy is baie dank aan al die betrokke partye verskuldig.

Johnny Kerswill van Hi-Tech Sekuriteit het ook sy dank uitgespreek teenoor sers. Michael Horn van die SAPD vir sy vinnige optrede en bystand na die aanval. Kerswill het bevestig dat daar teen druktyd nog geen arrestasies gemaak is nie.

Back to top button