Local newsNews

Die geskiedenis van ou Nelspruit se poskantoor

Hoeveel van ons gebruik nog die ou hoofposkantoor in die middestad en wie onthou toe die statige dubbelverdieping- kantoorkompleks nog die hart van ou Nelspruit se sakedistrik was?

Toe die gebou in 1958 – meer as 61 jaar gelede – voltooi is, was dit ‘n moderne toevoeging tot die groei van Nelspruit, wat toe besig was om te ontluik as vooruitstrewende handels- en nywerheidsentrum in die Oos-Transvaal van destyds.

Voor die bou van die stadsaal en munisipale kantore op die ou dorpsmeent in 1952, en die poskantoor langsaan in 1958, was die stasie en sy enkele omringende geboue die basispunt van die gemeenskap.

Die nuwe poskantoor nog in aanbou in 1957, hier gesien langs die munisipale kantoor en stadsaal wat in 1952 voltooi is.

Onthou, anders as baie boeredorpe het Nelspruit nie om ‘n kerk ontstaan nie, maar as gevolg van ‘n stasie, en later deur die aansluiting hier na ander dorpe in die Laeveld en teen die platorand.

So ook was die eerste pos- en telegraafkantoor binne in die eerste ou stasiegebou.

LEES OOK: Oudag se Johnston en Roets onthou

Eers in 1922 is daar ‘n eie poskantoor op die stasieterrein aan die onderkant van Andrewstraat gebou. Hiervan kon ons nog nie ‘n duidelike foto opspoor nie. Moontlik het iemand iewers nog ‘n afbeelding daarvan.

Soos hier berig, was die eerste poskantoor hier in Nelspruit se eerste stasiegebou gehuisves.

In 1922 was daar net twee werknemers. Hulle was die afdelingsbestuurder, ‘n mnr. Denton, wat eers in 1955 afgetree het, en die posmeester, Albert Hooper. Eers in 1933 is die personeeltal verhoog na drie.

Daar was later ‘n posmeester met die van van Paynton wat na vier jaar opgevolg is deur ene Bode. In 1938 is ‘n mnr. Purchase as posmeester aangestel, maar toe breek die Tweede Wêreldoorlog uit en baie mans sluit by die weermag aan. Twee vroue, ‘n juffrou O’Rorke en ‘n juffrou Male moes instaan. Teen die einde van die oorlog, hier in 1945, het die personeel al op tien gestaan.

‘n Ou koerantfoto met die argitekte en beplanners van die nuwe poskantoor voor die ou gebou in 1956.

Die volgende posmeester was ‘n sekere Lenaghan, opgevolg deur ene Schraader in 1948 met ‘n persioneelkorps van 12. Die gebou op die stasie was teen die tyd te klein. Eers tien jaar later is die nuwe gebou voltooi – groot genoeg om sommer ‘n paar ander staatsdepartemente se mense ook te huisves. Op die stadium was ‘n mnr. De Villiers die posmeester.

Van die dorp se eerste multiverdieping- kantoorgeboue en winkeldeurlope het om die poskantoor verrys en later ook die Promenade toe die stadsraad in die jare negentig na ‘n ruimer burgersentrum verhuis het.

Vir baie jare was die stasie op Nelspruit die sentrale spil waarom die dorpie sy ontstaan gehad het. Vroeër toe treinry nog die manier van vervoer was, was dit ‘n bedrywige plek.

LEES OOK: Toe die inry nog groot skerm-vermaak was

Met elektroniese pos en meer betroubare koerierdienste, en soos dit met die verval van talle staatsinstellings gaan, het die posdiens ook ‘n slagoffer van tyd geword. Tog bly dit nog ‘n interessante belewenis van ou Nelspruit om ‘n pakkie by die poskantoor in die stad te gaan afhaal of om vir oulaas nog ‘n geregistreerde brief daar te stuur.

Back to top button