EntertainmentLifestyleReviews

Saarkie mag my laaste drie Rolo’s kry

Hulle is rocksterre in eie reg - Saarkie se vertonings maak elkeen in die gehoor deel van 'n eersteklas ervaring. Dis iets om te beleef!

Ek sal vir Adèle, Lila en Lourene my drie laaste Rolo’s gee. Nie omdat hulle as die drie rocksterre van Suid-Afrika se enigste vroulike rockband, Saarkie, bekendstaan nie, maar omdat hulle ‘n vertoning soos min kan lewer.

Saarkie het hul nuwe CD, Reisiger, Vrydagaand in Mbombela by The Pub kom bekendstel en dit was ‘n fees! Adèle Fouché is die hoofsanger. Haar stem is pure Janis Joplin met skop. Lourene Mostert is behendig bedrywig met haar baskitaar, klawerbord en sy sing ook. Lila Botha speel die tromme en hou die gehoor op hul tone.

Dié drie sorg vir groot vermaak met ‘n vertoning wat jou nie vir ‘n oomblik laat stilstaan nie. Daar is interaksie tussen die musikante, hulle dans op die verhoog en maak die gehoor van elke maat deel.

Reisiger is die groep se derde album en die eerste enkelsnit, “Dullstroom”, gaan oor hul kosbare herinneringe wat ‘n klipgooi van ons af gemaak is. Sean Manley en Zanda Greeff het die album vervaardig waarop hulle gewilde “Ai my lam” verskyn. Freefalling, Afrikaland, Reisiger, Vroue van Afrika, Chuck Norris, Trust, One Love, My Jeug, Kamers van My Hart en Nader aan My is van die snitte op Reisiger wat vir ‘n luisterfees sorg.

Back to top button