Local newsNews

Serwitute hoef nie ‘n kopseer te wees nie

Talle persone regoor die Laeveld moet gereeld vir serwitute registreer, veral op plase.

‘n Serwituut word beskryf as bepaalde voorbehoue en/of gebruiksregte op die eiendom van ‘n ander eienaar.

Hier is die basiese wat jy oor serwitute moet weet.

Tipes serwitute

Volgens JC Kriek, direkteur by VZLR Ing Nelspruit, ‘n regsfirma, is daar twee soorte serwitute wat geregistreer kan word, naamlik ‘n persoonlike serwituut en ‘n grondserwituut.

“‘n Persoonlike serwituut is wanneer ‘n bepaalde persoon in sy persoonlike hoedanigheid geregtig is op die uitoefening van so reg. Dit is dus gebind tot die persoon en kan nie oorgedra word aan derdes nie,”

verduidelik Kriek.

Voorbeelde van persoonlike serwitute wat geregistreer kan word, sluit in gebruik, vruggebruik en bewoning.

Met ander woorde, dit is ‘n bepaalde individu se reg om grond te gebruik, dit wat op die grond geproduseer word te gebruik, of die grond te beset.

LEES OOK: Cyberbullying: What moms and dads should know

Kriek verduidelik verder dat ‘n grond-serwituut ‘n saaklike reg is wat een eiendom oor ‘n ander het, en die eiendomme word beskryf as die dienende en heersende erf.

Voorbeelde van grondserwitute is reg van weg, reg van pyplyn en waterleiding en reg van elektrisiteit.

Sodra jy bepaal het watter tipe serwituut jy benodig, kan jy ‘n prokureur gaan spreek om die proses aan die gang te kry.

Koste verbonde aan die verkryging van ‘n serwituut

“‘n Serwituutakte wat geregistreer moet word, moet ‘n notariële ooreenkoms wees wat deur ‘n notaris verly word en daarna in die aktekantoor geregistreer moet word. Die voorgestelde koste vir die opstel en registrasie van so ‘n notariële ooreenkoms word deur die prokureursorde bepaal wat nou as The Legal Practice Council bekend staan,”

verduidelik Kriek.

Let daarop dat dit slegs voorgestelde koste is wat as volg saamgestel word:
• Notariële ooreenkoms – R5 600
• Pos en diverse – R450
• Verkryging van hereregtekwotasie by SARS – R250
• Verbandhouertoestemmings – R2 400
• Gesertifiseerde afskrifte van goedgekeurde diagramme by landmeter-general (LG)
– R340 plus R50 per bladsy by LG
• Aktekantoor se fooi – R319
Bogenoemde sluit BTW uit.

“Daar moet ook gemeld word dat die notariële ooreenkomsfooi die basiese koste is en dat, in die geval waar dit komplekse ooreenkomste is, die notaris in verdere uurlikse fooi kan hef.”

‘n Verband op een of albei eiendomme

“Indien daar verbande oor die eiendom geregistreer is, moet die dienende erf, dus die erf waaroor die serwituut geregistreer word, se verbandhouer (bv. ABSA) toestem tot die registrasie van die serwituut,” verduidelik Kriek.

Volgens hom moet beide oorspronklike titelaktes ingedien word by die aktekantoor vir endosering van die serwituutregistrasie.

LEES OOK: Snaakse tafelmaniere by restaurante maak dat sommiges eerder tuis moet eet

Indien beide die heersende en dienende eiendomme met ‘n verband beswaar is, moet beide banke ‘n bankpaneel- prokureursfirma aanstel om die nodige titelaktes van die bank te versoek en die nodige toestemming tot die serwituut oor die dienende eiendom, soos bo vermeld, te verkry.

Oorspronklike titels en verbande word by die banke se argiewe gestoor waarvan die oorweldigende meerderheid in Kempton Park is.

‘n Voorbeeld van ‘n grondserwituut kan die reg van weg tussen twee eiendomme wees.

Geldigheid van ‘n serwituut

‘n Vraag wat na gelang van die geldig-heid van ‘n serwituut ontstaan, is of ‘n serwituut wat deur jou en jou buurman onderteken is, steeds geldig sal wees indien jou buurman verhuis en ‘n nuwe persoon op die eiendom intrek neem.

Kriek verduidelik dat indien dit ‘n grond-serwituut is, bly dit gebind tot die grond.

Ongeag wie die nuwe eienaar is, sal hy geregtig wees tot die gebruik aangesien die serwituut as ‘n titelvoorwaarde voorkom of ‘n voorwaarde is in beide eiendomme se titelaktes.

Hy verduidelik verder dat ‘n serwituut nie na 30 jaar verval nie en dat dit afhang van die ooreenkoms wat tussen die twee partye aangegaan is.

“Indien die serwituut gebind is tot ‘n tydperk wat in die toekoms verstryk, kan die eienaar van die dienende grond bloot ‘n aansoek bring in terme van Art 68(1) van die Akteswet 47 van 1937 vir die kansellasie van die serwituutreg,”

sê Kriek.

Kansellasie van ‘n serwituut

“Indien die serwituut oor jou grond loop en dit is ten gunste van ‘n ander stuk grond, dan moet daar eers bepaal word of die grond wat geregtig is op die serwituut dit in werklikheid steeds gebruik of nie,”

sê Kriek.

Hy voeg by dat indien dit nie meer gebruik word nie, kan jy en die huidige eienaar van die heersende grond ‘n notariële kansellasie-ooreekoms onderteken waarin julle gesamentlik toestem tot die kansellasie van die serwituut.

Indien die pad geregistreer is ten gunste van die algemene publiek, sal ‘n hofaansoek gebring moet word om die serwituut te kanselleer of ‘n aansoek kan gebring word by die munisipaliteit om toegangsbeheer toe te pas op die pad.

Back to top button