Editor's noteLocal newsNews

Na 17 dae is daar reeds 34 renosters gestroop

'n Plaag van gierigheid, vreesloosheid en 'n gebrek aan respek en liefde vir die natuur het uitgebreek en dit is besig om ons renosters uit te roei.

‘n Plaag van gierigheid, vreesloosheid en ‘n gebrek aan respek en liefde vir die natuur het uitgebreek en dit is besig om ons renosters uit te roei.

Die mens wat op hierdie aarde gesit is om die diereryk te beskerm, het in hierdie diere se grootste bedreiging ontaard.

Die aantal renosters wat op die wreedste wyses denkbaar doodgemaak en vir hulle horings geskend word, hou net aan styg. In 2010 is 333 van hulle uitgewis, verlede jaar 1 004. Teen 17 Januarie, is daar al

34 vir 2014 afgemaai. Die nuutste beskikbare syfer vir 2014 is 40. Ses van die karkasse wat sedert die begin van die jaar ontdek is, is egter dié van renosters wat al laat verlede jaar gestroop is.

Lede van die publiek wat van mening is dat daar nie genoeg gedoen word om renosterstropery stop te sit nie, moet mooi dink voor hulle die vinger wys en veralgemeen. Want die ouens op grondvlak wat die voortou in die oorlog neem, doen waaragtig alles in hulle vermoë om dit te probeer stopsit.

Veldwagters, weermagsoldate en polisielede veg onverpoos, maar dit is duidelik dat, vir elke vermeende stroper wat doodgeskiet of aangekeer word, daar nóg drie of meer die wildtuin binnekom. Hierdie manne word daagliks blootgestel aan elemente soos die skroeiende wildtuin-son, wind, weer en reën en is soms weke lank weg van die huis af soos hulle stropers se spoor volg.

Die vyand is egter net so vasberade, net so gehard en net so sterk. Daar is niks so gevaarlik soos iemand wat niks het om te verloor nie. Die meeste stropers is brandarm Mosambiekers wat hulle lewens waag in die hoop om uit hulle ellende te ontsnap. Ek regverdig nie wat hulle doen nie, maar probeer sin maak uit hierdie wreedheid. Wat ook al die rede, dit regverdig dit nie.

Het ek self ‘n oplossing? Nee. Sou die regering die handel in renosterhoring wettig, sal dit net ‘n tydelike oplossing bied deur die prys op die swartmark te laat val en stropery dus nie-winsgewend te maak. Want, hoewel ons duisende horings het om in die mark in te stoot, is die aanvraag miljoene.

Dalk moet ons met renosters begin boer en hulle horings oes en uitvoer, maar dan ondersteun ons eintlik ‘n bedryf wat ons juis probeer stopsit.

Ek het nie al die antwoorde nie, maar kan wel hierdie stukkie wysheid deel: “Ons het nie die aarde by ons voorouers geërf nie, ons leen dit by ons kinders.” Wie dit gesê het, weet ek nie, maar ek weet dat die regering mooi sal moet besin oor hoe hulle hierdie misdaad gaan bekamp. Want as dinge só aanhou, gaan ons nie eendag ons kleinkinders wildtuin toe kan vat om vir hulle die renosters te wys nie. Want daar sal nie een oor wees nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button