Local newsNews

Jordan en mamma Teresa deel sy verhaal

Jordan Fitzgerald is in 2013 met serebrale parese gediagnoseer. Tot groot vreugde van sy ma Teresa, het hy onlangs sy vyfde verjaarsdag gevier.

MBOMBELA – Haar hele lewe lank het Teresa Coertzen nie gedink sy gaan ooit kinders hê nie. Sy het rumatiekkoors as kind gehad wat vergroeisels op die twee hoofkleppe van haar hart gelaat het. “Die dokters het gesê my hart sal nooit sterk genoeg wees nie,” sê Coertzen.

Toe sy op die ouderdom van 38 uitvind sy is swanger, was sy dus uit haar nate. “Met my swak hart het die dokter gesê ek moet ophou werk as ek die baba wil hou. Ek het geweet hierdie is my enigste kans om ‘n babatjie te hê, so toe doen ek dit,” vertel ‘n emosionele Coertzen terwyl sy na Jordan Fitzgerald, haar vyfjarige seuntjie loer.

Jordan is op 4 Augustus 2013 gebore – drie maande te vroeg aangesien Coertzen se liggaam besig was om in te gee. Omdat hy vroeg gebore is, moes hy drie maande in die neonatale intensiewesorgeenheid deurbring en dit is in hierdie drie maande dat dié twee se lewens verander het.

Hier het Jordan, toe slegs drie dae oud, septisemie opgedoen as gevolg van ‘n besmette naald. Sy niere was nie sterk genoeg om die antibiotika te hanteer wat die siekte moes beveg nie en het stadigaan begin ingee.

“Nadat hierdie twee siektes suksesvol genees is, het hy op die ouderdom van twee maande in dieselfde saal meningitis opgedoen,” vertel Coertzen.

Volgens haar het die meningitis eerste Jordan se hipotalamus aangeval en kon die dokters dit eers agterkom toe hy uit intensiewesorg ontslaan is.

“Sy temperatuur het nooit bo 37,8 grade gestyg nie en daarom was meningitis nie oorweeg as ‘n infeksie nie. Dit is ook nie behandel totdat sy brein oor vier weke heeltemal weggevreet is nie,” sê sy.

Op 15 November kry Jordan sy heel eerste operasie – ‘n kortikale dreineringspyp is in sy kop ingeplant om die oormaat vloeistof te dreineer. Hier is Jordan ook vir die eerste keer met serebrale parese en blindheid gediagnoseer en begin sy niere weer ingee.

“Hy sou oorgeplaas moes word na ‘n ander hospitaal om dialise op my drie maande oue baba te doen wat 2,2 kilogram geweeg het. Ek, my ma en sussie het langs sy bed gesit en bid. Toe Jordan piepie was ons so verlig,” vertel Coertzen.

LEES OOK: Talentkompetisie bring hoop vir Jordan en Claudia

Op 20 Februarie in 2014 neem sy vir Jordan die eerste keer in sy lewe huis toe. Vyf ander operasies sou hierna volg, insluitend die dreinering van sy testis sowel as ‘n operasie om ‘n voedingsbuis te kry. Hy het ook geen sig nie sowel as konstante nierversaking.

Vandag is Jordan bietjie meer as vyf jaar oud.

“Die dokters het vir ons gesê kinders soos hy sien nie hul 10de verjaarsdag nie, maar ek weet hy gaan,” sê sy.

Vir haar is Jordan vrede en die rustigheid in ‘n chaotiese wêreld. “Hy vra nie vir baie nie en hy glimlag altyd.” Sy vertel hierdie vrede is ook hoe Jordan sy naam gekry het. “Ek het jare gelede deur die Jordaan-rivier gestap en daar het ek die Here ontmoet.

Toe dit tyd word om ‘n naam vir my seuntjie te kies, het die Here dit op my hart gedruk dat ek ‘n naam moet kies op grond van die plek waar ek al die rustigste was, en daardie oomblik het vir my uitgestaan.”

LEES OOK: Jordan het jou hulp nodig

Coertzen hoop dat haar seuntjie eendag weer sal kan sien. Sy probeer tans fondse insamel vir suurstofterapie, fisioterapie, ‘n korrektiewe stoeltjie wat sy postuur sal help, toerusting wat sy slaap sal vergemaklik, stamselle, kursusse om self na Jordan om te sien, sowel as doktorsrekeninge te betaal.

Om bydraes te maak of om meer oor Jordan uit te vind, skakel gerus vir Coertzen by 060-719-1947.

Back to top button