Hard newsLocal newsNews

Vragtrein ontspoor onder raaiselagtige omstandighede

Die voorval het ongeveer halfpad tussen die stad en die dorp, op die treinspoor langs die Krokodilrivier, plaasgevind.

KROKODILPOORT – ‘n Vragtrein wat steenkool na Maputo vervoer het, het onlangs onder raaiselagtige omstandighede tussen Mbombela en Malalane ontspoor.

Die voorval het ongeveer halfpad tussen die stad en die dorp, op die treinspoor langs die Krokodilrivier, plaasgevind. Talle gemeenskapslede wat gereeld op die N4 reis, het Laevelder daarvan verwittig, waarna die koerant ondersoek gaan instel het.

Die ongeluk is duidelik van die N4 af sigbaar.

By aankoms was dit duidelik dat die vragtrein wat aan Transnet behoort, meer as ‘n kilometer van die toneel af reeds ontspoor het. Dit het langs die spore voortgebeur en ‘n pad van verwoesting gesaai. Beton-dwarlêers en spoorwegsinjale het in die proses in die slag gebly. Die trein het uiteindelik tot stilstand gekom toe dit omgeslaan het.

Die toneel van nader.

Die toneel is met steenkool besaai, wat volgens Trasnet se woordvoerder, Nothemba Dlali, vir Mosambiek se hoofstad, Maputo bestem was.

Sowat 10 verwronge goederetrokke is op die toneel gelaat en ‘n privaat sekuriteitsmaatskappy is aangestel om ‘n wakende oog oor die steenkool en metaal te hou totdat die opruimingswerk afgehandel is.

Die omvang van die skade is van so aard, dat sou die trein passassiers vervoer het, die ongeluk beslis nood-lottig sou gewees het.
Dlali het bevestig dat die passasier-spooragentskap, Prasa die trajek ook gebruik om mense te vervoer.
Hoewel dit lyk of die spoor onbegaanbaar is, het Dlali verseker dat dit oop is vir vrag- en passasierstreine.
“Die spoor is oop en word daagliks gebruik,” het sy gesê.

Hoewel die oorsaak van die ongeluk nog ondersoek word, het inwoners van die omgewing bevestig dat grootskaalse werk onlangs aan die spoor gedoen en verskeie dele daarvan vervang is.

Nadere ondersoek het bevind dat groot dele van die spoor verwoes is, maar of dit die oorsaak van die ongeluk was, is egter onbekend.
Dlali het gesê dat die ongeluk ondersoek en die oorsaak daarvan later bekendgemaak sal word. Sy het bevestig dat daar geen beserings
was nie.

Hier is ‘n video van die toneel:

Lees ook: Dam levels in the province still on a downward trend

Don’t become part of the 1 300 diarrhoea cases

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Back to top button