EntertainmentLifestyle

Altyd ruimte vir kinders in die kunste kollig

Daar is talle voordele vir kinders wat aan die uitvoerende kunste deelneem onder andere meer selfvertroue.

Die uitvoerende kunste skep vir ‘n kind die ruimte om te wees net wie hulle wil wees. Met drama-, musiek- en sanglesse wat regoor die Laeveld aangebied word is dit duidelik dat daar beslis ‘n aanvraag na hierdie ruimte is. “Dit is net goed vir ‘n kind,” meen legendariese aktrise en dramaonderwyser Annette Engelbrecht, wat veral bekend
is vir haar rol as Maggie in OrkneySnork Nie.

“Eerstens dink ek dit is terapeuties. Verder sien ek ook hoe kinders se punte klim wanneer hulle met byvoorbeeld dramaklasse begin.”Volgens Engelbrecht help dit kinders ook ongelooflik baie met konsentrasie. “Hulle het baie woorde om te leer en hulle kan nie klas toe kom as hulle nie hul woorde ken nie, so dit leer hulle ook dissipline.”

Engelbrecht glo dat een van die grootste geskenke wat die uitvoerende kunste, en veral drama, aan kinders gee, is die feit dat hulle ‘n plek het waar hulle kan behoort.”Baie kinders word verwerp omdat hulle nie ‘n sekere manier is of op ‘n sekere gebied presteer nie, maar by die drama is dit kinders vanuit alle oorde. Jou nie-presteerders en presteerders, jou nie-atlete en jou atlete – hulle almal word soos ‘n familie,” sê Engelbrecht en vertel dat sy al gesien het hoe kinders wat nooit eintlik sou vriende wees nie, mekaar nou ondersteun en help woorde leer.

LEES OOK: Suid-Afrika se Snorseun kom na Innibos

Nog een van die voordele van die uitvoerende kunste is die feit dat jou kind lewenskennis opdoen omdat hulle met ‘n verskeidenheid van mense in kontak kom en ook in drama die geleentheid het om ‘n verskeidenheid karakters te speel wie se leefwêrelde hulle nou moet leer verstaan.Engelbrecht meen egter dat daar ‘n negatiewe kant aan hierdie wêreld ook kan wees.

“Ouers neem veral hierdie kompetisies baie ernstig op en dit plaas baie druk op die kinders,” sê sy en verduidelik dat dit dikwels vir ouers moeilik is om te begryp waarom hulle geld vir lesse betaal en nie sien hoehul kind presteer in terme van toekennings nie.

“Maar dit is omdat elke kind anders is en die kunste ‘n manier van uitdrukking is en nie ‘n kompetisie met reëls nie.”Plaaslike drama-, sang- en musiek-juffrou Felicia Lemmer stem saam met die nadeel wat aan die uitvoerende kunste verbonde is. “Ouers besef nie altyd wat hul kinders se vermoë is nie,” sê Lemmer.

LEES OOK: Hoërskool Nelspruit se 2018 skouspel

“As die kinders nie wen nie, dan hou hulle die kinders weg van hul lesse af en dis ook nie regverdig nie.”Hierdie een nadeel is egter niks in vergelyking met die talle voordele wat die uitvoerende kunste vir kinders bring nie. “Dit leer jou om ander ook baie meer te respekteer. Dit berei jou voor vir die res van jou lewe want daar gaan altyd iemand beter wees as jy en die kunste leer jou om dit te hanteer,” vertel Lemmer.

“Dit is vir my die heel lekkerste ding om talent in ‘n jongmens te ontgun en raak te sien,” sê Lemmer en voeg by dat alhowel dit vir haar ‘n besonderse gevoel is om self op die verhoog te staan, is daar niks lekkerder as een van haar leerders hulself op ‘n verhoog kan uitleef nie.”Ek wil ook die plaaslike talent vasvang.

LEES OOK: Plaaslike modelle presteer by nasionale kompetisie

Ons het soveel talentvolle kinders in die Laeveld en hulle verdien om ‘n kans te hê om op ‘n verhoog te kan wees.”Dit is duidelik ‘n noodsaaklikheid om talent van jongs af te ontgin en kinders toe te laat om hulself op ‘n kreatiewe wyse uit te leef.

Back to top button