School sportSport

SA se gewigstootheld is van die Laeveld

Gewigstoot-atleet van Laerskool Nelspruit, Vaughn van Zyl (o/10) het alle verwagting die afgelope naweek by die Suid-Afrikaanse Skole-kampioenskappe in Potchefstroom by die Kennith McArthur-stadion, oortref.

Hy het stof in die oë van strawwe kompetisie, onder andere Vrystaat se Conraad van den Swaard en Leo de Bruin van Gauteng, geskop.

Vaughn moes met ‘n tweede plek by die Mussas in Secunda met ‘n afstand van 09,93m tevrede wees. Hy het Saterdag sy beste vir laaste gelos en met ‘n reusegooi van 11,40m die goue medalje om sy nek gehang.

Verlede jaar se Suid-Afrikaanse verspringkampioen, Shanese de Clerck (o/12) het geweet dat dit geen maklike taak gaan wees om haar titel te verdedig nie.

Shanese de Clerck.

Alhoewel Chinique Jenkins van Gauteng dié goue medalje onder haar neus opgeraap het, het Shanese bly uitskiet met persoonlike bestes, nie net in die verspringput nie, maar ook in die hoogspring-item.

Chinique het ‘n wenafstand van 5,11m (verspring) aangeteken en Chantelle Joubert, ook van Gauteng se hoogte van 1,61m (hoogspring) het haar ‘n goue medalje in die sak gebring.

Lees ook: Goue atlete, Anje en Ashley hou Nellies se vaandel hoog

Shanese se doelwit was om 1,51m oor die lat te vlieg, maar sy het met ‘n hoogte van 1,58m teruggekeer wat sy agter haar naam kan skryf. Sy het haar vorige afstand van 4,79m in die verspring-item, Saterdag na 4,96m verbeter.

Ashley Erasmus (o/12), wat ook verlede jaar ‘n eerste plek op die podium vir gewigstoot ingeneem het, moes met ‘n tweede plek met ‘n afstand van 11,40m tevrede wees. Oos-Kaap se Danita du Plessis se massiewe stoot van 11,84m het haar ‘n eerste plek besorg.

Lees ook: Die Laeveld se atlete is slaggereed vir Mussa’s

Ashley se persoonlike beste afstand in dié item, is 11,81m en sy het gehoop om die 12m-merk te oorskry. Haar afstand was steeds 925 punte op die Absa-tabel werd.

Anje Nel (o/13) het sedert haar rekordafstand van 1,60m wat sy by die Obaro Interlaerbyeenkoms opgestel het, verbeter. Sy het haar opmars in die item voortgesit toe sy ‘n silwermedalje verower het met ‘n hoogte van 1,63m.
Dié atlete was egter nie die enigstes wat uithalervertonings gelewer het nie.

Anje Nel.

Curro Nelspruit se Kian Mouton (o/12) het die 1 200m met ‘n tyd van 03:43,55 voltooi en ‘n sesde plek verower. Laerskool Witrivier se Nakisizwe Fakude het ‘n vyfde plek vir seuns o/12 in die 150m met ‘n tyd van 19,15sek gehardloop.

• Sommige uitslae is nie amptelik nie.

Back to top button