School sportSport

Shanese, Zimele is atletiek se goues

Laerskool Nelspruit se Shanese de Clerck (o/12) se naam het Vrydag by die Obaro Interlaer-atletiekbyeenkoms oor die Longtom-pas weergalm.

Dié huidige Suid-Afrikaanse Skole-verspringkampioen, het die victrix ludorum-trofee omhoog gehou en ‘n totaal van 3 307 ABSA-punte agter haar naam ingeskryf. Dit was egter haar eerste plek in hoogspring met ‘n hoogte van 1,38m (875 punte) wat haar beste prestasie van die dag was.

Sy is ook as die beste baanatleet gekroon.

Ten spyte van gure weersomstandighede, het sy sewe goue medaljes in onderskeidelik hoog- en verspring, 150m, 75m-hekkies, 150m-hekkies en 100m om haar nek gehang.

Lees ook: Goue atlete, Anje en Ashley hou Nellies se vaandel hoog

Die o/12-dogtersaflosspan se Shanese, Arili Boshoff, Danielle Groenewald en Lorraine van Wyk het ook ‘n eerste plek verower.

Gasheerskool, Laerskool Lydenburg se goue seun, Zimele Sibanyoni (o/13) het vyf goue medaljes ingepalm en is as die beste seunsbaanatleet, asook die senior victor ludorum aangewys.

Zimele Sibanyoni.

Hy het die 200m in 26,85, die 80m- hekkies in 12,59, die 200m-hekkies in 30,72 en die 100m in 13,07 kafgedraf. Hy het verder ook ‘n vierde plek in die verspring en ‘n vyfde plek in die hoogspring behaal.

Die trofeë vir die beste middelafstand (seun en dogter), beste hekkiesatleet (dogter) en beste prestasie van die dag (dogter) staan óók in Nellies se spogkas.

Ruben Greeff.

Ruben Greeff (o/10, 1 200m), Lana Botha (o/10, 1 200m), Anje Nel (o/13, 200m-hekkies) en Kiara Craven (o/10, hoogspring) se name is vir bogenoemde items uitgeroep.

Laerskole Bergland en Lydenburg se o/13-dogtersaflosspan se eerste oorgee was kop aan kop met Lydenburg wat by die tweede en derde oorgee voorgeloop het. Nellies se spoedvraat, Larise Combrinck het verby Lydies genael om uiteindelik eerste oor die wenstreep te hardloop.

Lydies se o/13-seuns, Zimele, Marius Nel, Darnell Koetzee en Tsegofatso Mmotong het van die skoot geklap het, die voortou geneem.

Marius Nel.

“Die was vir Lydenburg ‘n groot voorreg om die pragbyeenkoms van 2017 aan te bied. Ons is die sikloon gespaar en kon die dag volledig en op tyd voltooi. Atletiek van hoogstaande gehalte is opgelewer en die toeskouers het uitbundig saamgesing. Dankie vir al die borge wat die dag moontlik gemaak het,” het die hoof van Lydies, Cornelus Lemmer gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button