EntertainmentLifestyleReviews

Laurika se nuwe ‘Reis’

Dis Laurika Rauch soos ons haar ken - daardie warm fluweelstem wat jou na die geur van varsgebakte koekies en jou ma se huis laat verlang.

Die Reis is Laurika se tweede vrystelling sedert sy vir die verspreiding van haar albums by Coleske Artists aangesluit het. Wals, Wals Willemien, haar vorige album van 2014, is reeds met ‘n Ghoema-toekenning vir beste kontemporêre album deur ‘n vroulike kunstenaar vereer.

laurika-rauch-die-reisDie Reis beloof om haar gevestigde aanhangers met ‘n vars aanslag van vol verwerkings te verras. Daarmee saam is dit moontlik dat die keuse van liedjies en belangrike bydraes deur medesangers, vir haar ‘n nog wyer, steeds jonger – en selfs nuwe – gehoor sal skep. Laurika het onder meer vir ‘n paar liedjies, wat reeds lank met haar geassosieer word, heeltemal nuwe baadjies aangetrek (soos wat een van haar gunstelingsangers, Sting, dikwels maak) en sodoende nuwe lewe daarin geblaas.

Stel jou voor, ‘n liedjie soos “Blou”, opnuut verwerk deur Loki Rothman, met sy sonderlinge kitaarklank en stem, wat ‘n asemrowende duet saam met Laurika sing! “Vier seisoene kind” en “Ek het ‘n huisie by die see” is opnuut deur Juan (Floors) Oosthuizen verwerk en klink soos iets wat jy nog nooit gehoor het nie. Daar is natuurlik ook heeltemal nuwe liedjies op die album, soos “Days”, van Etienne Steyn (“As ek eendag oud is”), waar die 13-jarige Binky Rose met haar besonderse stem, saam met Laurika ‘n duet sing.

“Hoeveel ek van jou hou”, is ‘n pragtige woordverwerking deur haar man, Chris Torr, met ‘n onvoorstelbare vioolorkestrasie deur Devereaux van der Hoven Oosthuizen. Die titelsnit, “Die Reis”, is nog ‘n aangrypende lied uit die pen van Vernette Rautenbach Wessels. ‘n Groot verrassing op die album is haar weergawe van “Klein Tambotieboom”, van Die Heuwels Fantasties en om alles te kroon, sing die ware Jakob, saam met haar. Moenie hierdie een misloop nie.

Back to top button